Jong sportman steeds positief na hy sy nek breek
VANDERBIJLPARK. – Brandon Moolman (24) word deur sy familie beskryf as gedetermineerd, vrygewig, dapper en liefdevol. Dié jongman was nog altyd ‘n rolmodel vir ander en het op skool reeds in hokkie uitgeblink. Hy het altyd met die nommer 6 op sy rug uitgedraf en was een van Hoërskool Transvalia se hokkiesterre.
In 2014 is hy vir die Bokkiespan gekies en het later vir die Noordwes-Universiteit gespeel. Tot onlangs was hy ook hokkieafrigter by Transvalia. ‘n Jong gegradueerde met ‘n blink toekoms. Tot 8 Augustus 2020. Brandon en ‘n paar vriende wou laatmiddag ‘n foto neem op ‘n brug oor die rivier. Altyd gereed vir ‘n avontuur het hy voorgestel dat hulle van die brug af spring. Hy het eerste gespring en in ‘n fratsongeluk sy nek gebreek. Van daardie oomblik af was die lewe nie weer dieselfde vir Brandon, sy familie of vriende nie. Te midde van die Covid-19 pandemie was Brandon vir 65 dae in die waakeenheid. Sy tannie, Mariza Roux, beskryf die tydperk as “hel en ‘n totale rollercoaster rit”.
Tog was dit Brandon self wat van dag een af ‘n onblusbare positiewe gees en uithouvermoë getoon het. Hy het die dag nadat hy gehoor het dat hy van sy nek af verlam is, reeds sy arms beweeg.
Op 12 Oktober is hy uit die hospitaal ontslaan en is hy na die rehabilitasiesentrum oorgeplaas waar hy tot einde Januarie sal bly. Hier werk hy baie hard om so selfstandig moontlik te wees en verstom hy almal met sy goeie vordering. Brandon se positiwiteit en geloof ken geen perke nie. Selfs op die foto’s vanuit die hospitaal blink sy oë en glimlag hy elke keer.
Op 1 Desember het Mariza haar peetkind so op Facebook beskryf: “Ons inspirasie, Brandon Moolman, jy laat ons woordeloos met jou deursettingsvermoë, positiwiteit, dryfkrag en geloof. Trots om jou tannie te wees”.
Daar is ook ‘n Facebookblad, @WalkByFaith06 begin waar Brandon se vordering gedeel word. Die blad gee ook inligting oor verskeie fondsinsamelingsprojekte wat geloods is om te help met Brandon se rehabilitasie en ander mediese onkostes. Een daarvan is ‘n spesiale kompetisie met groot pryse op die spel. Gaan volg gerus die blad en bly op hoogte van Brandon se merkwaardige verhaal.
Hy glo sy storie is nog nie klaar nie. Sy groot droom is om ‘n motiveringsspreker te word. Brandon wil vir die wêreld vertel dat daar altyd hoop is. Dat opgee nie ‘n opsie is nie. Elke week kan sy familie vordering sien. Word hy sterker en kan hy meer dinge self vermag. Hy glo hy het ‘n tweede kans gekry om te lewe en daaroor is hy baie dankbaar. Soos sy peetma sê: “Ons dra hom nie, hy is die een wat ons dra.”


