MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT – Raadsheer Phil Pretorius
Midvaal evalueer deurgaans al die paaie en dui voorkeurpaaie aan op ʼn prioriteitslys.
Deur Raadslid Phil C. Pretorius, Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Inwoners van Meyerton sou die drie tipes spoedhobbels opgemerk het op die hoek van Mimosastraat en Pierneef Boulevard. Die hobbels is ʼn toetsprojek om die effek van spoedbrekers op stoptekenlyne te toets asook om ʼn nuwe tipe spoedhobbel wat opgeplak word uit te toets. Die doel is om twee vlieë met een klap te vang deur spoed te reguleer en padgebruikers te kry om by die stopstrate te stop. Stopstrate is ʼn sensitiewe aangeleentheid in Meyerton maar dit maak nie saak hoe ons dit benader nie, dit is ʼn nasionale padwet en MOET gehoorsaam word. Ongelukkig is te veel mense in Midvaal in die laaste paar jaar beseer of oorlede a.g.v. die verontagsaming van die wet en is dit Midvaal se plig om alles in hulle vermoë te doen om ons inwoners te berkerm. Midvaal was ook tot onlangs geografies die grootste munisipaliteit in Gauteng met die kleinste bevolking en dus die kleinste begroting en belastinginkomste. Dit is vir daardie rede ʼn ongelooflike groot taak vir o.a. die verkeersdepartement met hulle besonderse klein personeel van agt verkeersbeamptes (opsigters ingesluit) per skof, per dag, om die hele Midvaal, vanaf Walkerville tot Vaal Marina, te beman.
Sake van belang:
Midvaal werk intensief daaraan om seker te maak dat alle wette en finansiële beleide reg en eerlik uitgevoer word. Behalwe vir die gereguleerde finansiële verslae en raadsitems wat volgens wet voor die raad moet dien, word baie tyd en moeite afgestaan aan addisionele prosesse om te verseker dat die departemente en dienste vlot verloop. Vir hierdie rede het Midvaal onlangs hulle sesde agtereenvolgende ongekwalifiseerde ouditverslag gekry. Oudit verslae kom in drie hoofkodes: i.) Ongekwalifiseerd (met of sonder bevindinge) – wat beteken dat die state wat ondersoek is deur die Ouditeurgeneraal geen beduidende probleme bevat nie ii.) Gekwalifiseerd (met bevindinge) – wat behels dat daar probleme is en sekere aangeleenthede uitgewys word, en dan iii.) Nadelige bevindinge – wat redelike probleme aandui. So wanneer ʼn munisipaliteit ʼn ongekwalifiseerde ouditverslag kry is dit ʼn positiewe teken en word ook na verwys as ʼn SKOON OUDIT.
Die Midvaal verskil:
Midvaal is ook die afgelope aantal jare aangewys as die munisipaliteit in Gauteng wat die beste presteer en kom dan gereeld onder die top tien in die land, aldus RatingsAfrika.
**********************************************
Midvaal beslaan 1722km2 en strek vanaf Walkerville na Vaal Marina en van Suikerbosrand tot DeDeur. Daar is 1,800.08km se paaie in Midvaal waarvan 1140.08 grondpaaie is. Ongeveer R19.2miljoen word jaarliks aan paaie se onderhoud, opgradering en bou van nuwe paaie spandeer. Die kostes per kilometer geteerde pad beloop enigiets tot en met R12miljoen perkilometer en dit is bloot onmoontlik om met 79 personeel (ongeveer 8% van die totale personeel in Midvaal) in die paaie afdeling hierdie taak vol te hou. Vir daardie rede word ʼn groot deel van die infrastruktuur vir paaie deur privaatkontrakteurs gebou en onderhou. Die Ingenieursafdeling (wat ook water, riool en elektrisiteit insluit) is 77% van die 2020/21 se kapitaalbegroting toegeken.
In Midvaal is daar munisipale paaie wat Midvaal onderhou maar daar is ook talle provinsiale paaie wat deur die Gauteng Provinsiale Padagentskap gediens moet word. Roetes soos Johan le Rouxweg, Jim Fouchestraat, die R82 deur Walkerville, die R551 na Heidelberg en die R59 hoofweg is Provinsiale paaie. Midvaal mag na regte nie op hierdie paaie werk sonder toestemming nie en meld gereeld probleme by die provinsie aan vir aandag. Dit is a.g.v. konstante klagtes, aanmeld en opvolg van die raadslede, die LBK (Lid van die Burgemeesterskomitee of MMC) en inwoners dat die interseksie by Morris- en Meyerstrate, wat ʼn provinsiale pad is, so vinning en mooi herstel is.
Midvaal evalueer deurgaans al die paaie en dui voorkeurpaaie aan op ʼn prioriteitslys. By die Geïntegreerde Ontwikkelingsplanvergaderings (IDP) kry die publiek geleentheid om hulle versoek vir nuwe of opgradering van paaie te lys. Sien ook meer inligting oor die GOP in die Hoofsweep-Rapport van 10 November 2020 of soos aanlyn gepubliseer op 1 Desember 2020, by www.vaalweeklbald.com of op Vaalweekblad se facebook. Paaie word volgens die beskikbare begroting op die werkslys geplaas.
Sekere paaie is dan eerder die eienaars se verantwoordelikheid. Servitute, privaatopritte en sekere plaaspaaie kan nie deur die munisipaliteit gediens word nie. Skakel gerus u wyksraadslid om uit te vind wat ʼn spesifieke pad se klassifikasie is.
Sake van belang:
Daar is spesifieke kriteria vir die bou van teerpaaie. Die afstand wat geteer moet word, word bereken en vergelyk met die aantal inwoners en/of gebruikers van die pad. Dit is dus logies dat ʼn pad van twee kilometer met 20 wooneenhede voorkeur sal kry bo ʼn vyf kilometer pad met twee wooneenhede. Midvaal se uitgangspunt is om die beskikbare begroting te gebruik waar dit die grootste impak en uitkomste te weeg bring om die gemeenskap van Midvaal se lewenskwaliteit te verbeter.
Die Midvaal verskil:
Midvaal se inkomste is hoofsaaklik afhanklik van die belasting wat ingevorder word vanaf die inwoners en is die afgelope aantal jare op ʼn uitmuntende gemiddelde invordering van 94%. Hierdie begroting word net so gespandeer op dienslewering in die gemeenskap en is die hoofrede hoekom die betaal van u munisipale belasting so belangrik is.
Sekere fondse soos die MIG (Municipal Infrastructure Grant) waarvoor munisipaliteite moet aansoek doen, ʼn besigheidsplan ingee en dan ten volle spandeer of verloor, word elke jaar 100% deur Midvaal gebruik. Onlangs is Midvaal ongeveer R11miljoen addisioneel toegeken nadat ander munisipaliteite nie hulle MIG begrotings gebruik het nie. Dit is ʼn besonderse veertjie in Midvaal se hoed.
Trotse Midvaal Groete
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

