Local newsNewsNews

Ligte-leesstof: Soms is ek effe verstrooid …

Verstrooid? Ja wel, ek dink darem nie my foto verskyn langs die woord in die HAT nie, maar ek het al my oomblikke gehad. Soos daardie tyd wat ek nog in Graskop gebly het. Klein dorpie. Almal ken mekaar.

Die oggend het Graskop weer sy miskombers oorgehad. Koud. Ek is met wintersklere uit die huis Sabie toe. Sabie is warmer as Graskop en teen die tyd wat ek terug in die dorp was, het ek baie warm gekry. Moes nog winkel toe, maar stop eers by die huis om gou somersklere aan te trek.
Voel sommer beter en koeler. Toer rustig deur die dorp se enigste groot winkel. Waai so hier en daar vir mense wat ek ken. Stoot die trollie na my motor toe, pak uit en besorg die trollie, soos ‘n goeie kliënt betaam, weer terug op sy plek. Alles rustig. Sonder haas. Sien ‘n paar mense kyk, maar steur my geensins aan hulle nie. Was eers toe ek in die motor klim wat my oog die naat op my skouer in die truspieëltjie sien. My t-hemp was onderstebo!

Hierdie jaar het ek ook ‘n paar maal klei getrap, ten spyte van noukeurige lysies in my dagboek. Nog voor daar sprake was van die grendelstaat, word ek gestuur om ‘n onderhoud met ‘n afgetrede skoolfhoof te doen. Weet nie van ander mense nie, maar na al die jare is ek steeds maar lugtig vir die spesie. Die onderhoud vind aan huis by die meneer plaas. Alles verloop goed, totdat ek die foto wil neem … Ek haal die kamera uit die sak. Skakel die kamera aan. Maak seker dis gestel op A vir Automatic (ek het nie my kollegas se talente vir fotografie nie) en druk die knoppie. Daar gebeur niks.

Die meneer se een wenkbrou lig net so effens. Ek probeer weer. Steeds niks. Terwyl paniek sy weg na die krop van my maag vind, tref dit my soos ‘n weerligstraal hoekom kamera nie wil werk nie. Daar is nie ‘n battery in nie! Die battery was besig om te laai in die kantoor, waar ek dit die oggend gelos het. Wat maak mens? Daar was nie berge om op my te val of heuwels om my te bedek nie. Ek het onverskoning gevra, my selfoon uitgepluk en die foto daarmee geneem. Gelukkig het dit gewerk!

My laagtepunt, of sal ek sê verstrooide hoogtepunt?, het in November gebeur. Ek het ‘n afspraak gehad om ‘n onderhoud met Mej. Vaal te voer. Haar boodskap het duidelik gesê Riversquare, maar ek het, helaas, net die River-gedeelte van die woord onthou. Die betrokke oggend sit sy toe geduldig vir my en wag in Riversquare, Drie Riviere en ek vir haar by Riverside Mall in Vanderbijlpark!
Gelukkig het die jonge dame verstaan en kon ons herskeduleer. My kollegas het natuurlik gedink dis baie snaaks, maar ek het gevoel dit was ‘n duidelike teken dat ek ‘n vakansie benodig!

‘n Kamera werk nie sonder ‘n battery nie. Foto: Gerda Bruinette

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button