Wees ‘n beter ‘mens’ dié Kersfees
Die jaar is so te sê iets van die verlede ... pandemie en al kon nie keer dat die dae verbyvlieg nie. En hier staan ons weer voor die deur van nog ‘n Kersfees.

Oral in die winkels is die Kersliggies op en Kersliedere kan gehoor word. Maar mens kry mos nou twee soorte mense oor die Feesseisoen – diegene wat mal is oor Kersfees (ek is natuurlik een van hulle) en ander wat nou nie juis gek is daarna nie. Maar tog besef die meeste mense dat dit wel ‘n Feesseisoen is en baie mense reik in dié tyd uit na hul medemens. Ons het reeds oor verskeie organisasies berig wat spesiale projekte aangepak het sedert die begin van Desember – namens die gemeenskap wil ek weer sê: “Baie dankie” vir julle groot harte.
Hierdie Kersfees sal vir party so bietjie moeiliker wees as ander jare. Hulle het dalk ‘n geliefde weens die pandemie verloor, of dalk het hulle hul werk verloor … Kersfees sal net anders wees.
Daar sal verkieslik nie gedruk en gesoen moet word nie, want ongelukkig is die haatlike virus nog nie iets van die verlede nie. Maar tussen al die negatiewe dinge wat deur die jaar gebeur het, is ons nog hier.
Kan ons nie maar probeer om die positiewe te sien en hierdie Kersfees “beter mense” wees nie?
Wees meer verdraagsaam. Help iemand wat jy nie eers ken nie – al is dit net met ‘n kospakkie of ‘n paar rand. Ondersteun ‘n organisasie wat mens of dier help. Gaan kuier by ‘n bejaarde wat weggestoot en alleen voel. Sit kos uit vir straatkatte in jou omgewing – en as jy hulle nie wil help nie, moet hul dan ten minste nie seermaak nie. Gee die bedelaar wat jou by die verkeerslig irriteer ‘n paar rand. Doen enigiets om jouself ‘n beter mens te maak – ‘n mens wat iemand anders sal inspireer om ook ‘n beter mens te wil wees. Die reaksie of emosie wat jy uit dié soort dade gaan terugkry kan waarskynlik jou grootste geskenk die jaar wees. Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar. – Elsje Vermeulen (Redakteur).
