Ligte-leesstof: Amper was daar opwinding
Dit was die somer van 2017 ... Dis warm. Te warm. My slimfoon vertel my dis 32 °C buite. Nie ‘n wolkie in die lug nie. Ek sit halfmas agter my rekenaar. Gaap dat my oë traan. My halfgebakte denke oor wat ek volgende moet doen word versteur deur ‘n uitroep van misnoë uit die kombuis.
Gerda Bruinette
“Wat nou?” roep ek oor my skouer.
“Hier is ‘n voël in die kombuis,” antwoord Ma.
Ek staan op om te gaan kyk. Sien eerste die pers blertse raak teen die muur, op die vloer, op die kas … Dan gewaar ek die voël. Ek is nie ‘n kenner nie, weet nie watse voël dit is nie, maar ek kan sien hy is bietjie verskrik. Ma maak die kombuis se binnedeur toe. Ek sluit die staalhek oop en gryp die besem. Weet nie eintlik wat ek met dit wil maak nie. Kan nou nie juis die ding uitvee nie, kan ek? Ek sit die besem weer neer. Ons besoeker vlieg van die een hoek na die ander. Daar is nog ‘n pers blerts op die vloer. Hy gaan land in die hoek. Ek staan nader, miskien kan ek hom vang, maar hy ontwyk my grypende hande en vlieg weer ‘n draai deur die kombuis. “Simpel ding,” sê ek.
Ma staan asof sy geplant is. Hy land in die hoek. Hierdie keer gryp ek die vadoek. “Dalk kan ek dit oor hom gooi,” verklaar ek. Die vadoek land op die voël, maar alvorens ek hom kan optel, gaan daar ‘n lig vir hom op en onthou hy waar die agterdeur is. Met ‘n sierlike boog is hy uit. Ma maak weer die binnedeur oop. Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi kom vaak-vaak die gang af. Bessie ruik so slag aan ‘n pers blerts en strompel toe by die agterdeur uit. “Julle het al die aksie gemis. Watse waghonde is julle?” vra ek vir Heidi, maar sy gee my net ‘n skewe kyk en loop uit. Ma begin die blertse opvee. “Hy het duidelik bessies geëet” sê ek. Dalk was dit moerbeie. Wie sal nou weet? Ek is net spyt daar was nie tyd om ‘n foto van die besoeker te neem nie.
