Local newsNewsNews

Inbraakdata: Gewilde items en hoe en wanneer slaan boewe toe

Elke huiseienaar in die Vaal en regoor Suid-Afrika is 'n teiken vir misdadigers ... veral oor die Feesseisoen. Virseker het inbraakdata oor dié tydperk van die afgelope 5 jaar geanaliseer om te identifiseer watter items hoog op misdadigers se inkopielys is, wanneer hulle die meeste toeslaan en watter toegangspunte hulle die gereëldste gebruik om toegang tot wonings te verkry.

Die volgende tendense staan uit in Virseker se Desember eisdata van 2015 tot 2019:

  • Die top 10 items wat gesteel word: TVs, klankstelsels, rekenaars en skootrekenaars, selfone en tabletrekenaars, juwele, kraggereedskap, tuingereedskap, speletjieskonsoles, fietse en beddegoed.
  • 77% van inbrake maak buit van huisinhoud en 23% van buitegebou-inhoud.
  • Toegang word meestal verkry deur vensters, gevolg deur motorhuise, deure, skuifdeure en, in rare gevalle, dakke.
  • Maandae en Woensdae is die mees gewilde dae vir inbrake, gevolg deur Dinsdae en Vrydae.
  • Hoewel inbrake enige tyd van die dag of nag plaasvind, is daar meer inbrake in die baie vroeë oggendure tot rondom 9:00 en weer tussen 12:00 en 15:00.

Volgens Coetzee is daar verskeie opsies om ekstra sekuriteit tot jou huis te voeg wat elke Suid-Afrikaanse huishouding moet oorweeg:

  • ‘n Stewige grensmuur of palisadeheining wat nie alleen privaatheid bied nie, maar ook as eerste lyn van verdediging dien.
  • Goeie hekke en motorhuisdeure wat sterk is en ideaal met afstandbeheer oopgemaak kan word. Dis belangrik dat hierdie hekke en deure vinnig oop en toe gemaak kan word om die geleentheidsvenster vir misdadigers so klein as moontlik te hou. Maak ook seker dat hekke nie van hul spore gelig kan word nie en dat hekmotors veilig versteek is en nie maklik toeganklik is nie.
  • ‘n Elektriese heining wat ‘n ekstra sekuriteitslaag bied en ook as afskrikmiddel dien. Dis belangrik om dit deur ‘n kenner – en in ooreenstemming met veiligheidsregulasies – te laat installeer. Kyk uit vir swakpunte waar die heining maklik omseil kan word deur op ‘n muur te trap of a nabygeleë boom vir hefkrag te gebruik.
  • Sekuriteitstrale (“beams”) wat die area rondom jou woning, sowel as binne jou woning, dek – só opgestel dat verskillende sones geaktiveer kan word soos nodig. Dit dien as ‘n vroeë waarskuwingstelsel, sou misdadigers om of deur die eerste lae sekuriteit kom.
  • Diefwering en sekuriteitshekke op alle deure – stewig vasgemaak sodat dit nie maklik omseil, gebreek of oopgebuig kan word nie. Sommige ouer huise is veral kwesbaar waar die sweiswerk wat diefwering aan die vensterraam vasmaak nie stewig is nie.
  • Klein hondjies in die huis is ‘n hoogs onderskatte sekuriteitsmaatreël, Hulle skerp gehoorsintuig, sig en reuksintuig bied ‘n vroeë waarskuwingstelsel van onskatbare waarde.
  • Dit is slim om jou sekuriteitstelsel aan ‘n goeie gewapende reaksiemaatskappy te koppel en om ook ‘n paniekknoppie aan hierdie stelsel te koppel.
  • Kringtelevisiestelsels word toenemend bekostigbaar en bied ‘n maklike manier vir jou om ‘n oog op jou eiendom te hou – selfs oor groot afstande via ‘n slimfoon app. Sou jy ‘n slagoffer van misdaad word, is dit ook ‘n handige hulpmiddel vir die polisie om misdadigers vas te trek.

Reëls vir goeie algemene sekuriteitspraktyk rondom jou huis:

  • Kyk uit vir verdagte voertuie of individue, veral wanneer jy by jou huis ingaan, en stel die owerhede in kennis indien nodig. Beweeg vinnig wanneer jy tuiskom of jou huis verlaat.
  • Varieer jou daaglikse roetine om dit moeiliker te maak vir misdadigers om te voorspel wanneer jy tuis sal wees.
  • Vermy dit om vir misdadigers ‘n voorsmakie te gee van wat in jou huis is deur leë bokse van nuut-aangekoopte items oop en bloot te laat lê, gordyne wyd oop te los of enige deure, insluitend die motorhuisdeur, oop te los.
  • Moenie jou motor- en huissleutels op ‘n plek los waar dit maklik toeganklik is nie – hou dit weggebêre in ‘n veilige plek wat slegs bekend is aan die lede van jou huishouding.
  • Behou ‘n gesonde skeptisisme wanneer jy ‘n kontrakteur of permanente werker in jou huis toelaat – maak seker dat jy ‘n goeie agtergrondondersoek doen.
  • Berg die kontakbesonderhede van alle nooddienste op jou foon of skryf dit neer waar almal in die huishouding maklik toegang daartoe het. Maak seker dat almal weet wat om te doen in ‘n noodgeval.
  • Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis wanneer jy vir verlengde tydperke nie tuis sal wees nie. Reël met iemand wat jy vertrou om jou huis gereëld te besoek, jou posstukke uit die posbus te haal, plante water te gee en verskillende ligte aan te skakel om die indruk te skep dat iemand tuis is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button