NewsNews

Veearts van kindsbeen af

SASOLBURG. – Sy is bekend as die veearts wat op die vloer in die dierehospitaal sal slaap om ‘n pasiënt op te pas. Dr. Letitia Swartz lag en erken dat dit al gebeur het.

“Tydens die eerste ruk van die inperkings in 2020 het my huis ook as hospitaal gedien. Dit was ‘n interessante ervaring,” voeg sy by en haar oë skitter. Om met diere te werk is Letitia se grootste passie. “Ek wou ‘n veearts word vandat ek kan onthou. Nooit iets anders nie. Ek het in hierdie einste praktyk op skool al uitgehelp. Dr. Pieter Fourie het my baie geleer,” vertel sy.

Letitia saam met Jurgens en Mia. Hulle  kuier gereeld by die praktyk. Foto: Verskaf

Sy is al 15 jaar veearts by die Sasolburg Veeartskliniek, en drie jaar gelede kon sy die praktyk oorneem. Letitia sê: “Dit was nie ‘n maklike pad nie. Om jou eie besigheid te hê is moeilik, maar ek is baie geseënd. Die praktyk sou nie ‘n sukses wees sonder my fantastiese personeel en ondersteuning van my familie en die gemeenskap nie. Ek raak geheg aan die diere en raak ook betrokke by die lief en leed van hul eienaars. “Ons het al hier met buitengewone diere te doen gehad, van tierboskatte en rooikatte tot by ‘n Sugar Glider. Dis amper soos ‘n muis met vlerke. So ‘n klein dingetjie. Te oulik,” begin haar hande saampraat. “Eenkeer moes ons ‘n jagluiperd wat in ‘n draad vasgesit het, se oog verwyder en ‘n ander keer het ons ‘n eekhoring gehelp wat ook ‘n oog verloor het.” Sy doen ook gereeld plaasbesoek as haar groter pasiënte hulp benodig. By die huis geniet sy tyd saam met hul twee Golden Retrievers, ‘n Bengaalse kat, ‘n gewone kat en twee voëltjies. “My man, PG, hou my bietjie in toom, anders sou dit baie meer gewees het,” lag sy. Die egpaar se twee kinders, Mia (Gr. 6) en Jurgens (Gr. 3) deel haar liefde vir diere, maar op die stadium wil Jurgens eerder ‘n treinbestuurder as ‘n veearts word. Letitia is deel van die Suid-Afrikaanse Veearts Vereniging se mentorprogram vir jong veeartse. Sy is ‘n avonturier van formaat wat Obstacle Course Racing geniet, van sky diving hou en ‘n hele lys van plekke in Suid-Afrika het waar sy nog rekspronge wil uitvoer. “Ek het al ‘n reksprong by die Victoria watervalle gedoen, maar toe was ek nog jonk en onverskillig,” erken sy en lag vrolik. Op die Sasolburg Veearts Facebookblad word daar amper daagliks foto’s gelaai van Letitia met ‘n wolhaar pasiënt in die arms. Lees die kommentaar op die foto’s en jy besef gou dat daar ‘n besondere verhouding tussen haar en die dorp se diereliefhebbers is. Een aanhanger het dit mooi opgesom: “Ons mooiste dr. Letitia met ‘n hart van suiwer goud. Beste veearts in die wêreld!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button