News

R59 se oordrag na SANRAL steeds onseker ná noodlottige ongeluk

Padveiligehied in die Vaaldriehoek is 'n groot kopseer.

SASOLBURG. Kommer oor padveiligheid op die R59 is weer in die kollig ná die noodlottige botsing tussen ’n skoolvoertuig en ’n vragmotor waarin drie leerlinge en JCS Independent School se skooldirekteur, pastoor Zet Oosthuizen (60), dood is.

Volgens ’n berig deur Maroela Media word daar ’n beroep op die Vrystaatse regering gedoen om dringend aandag te gee aan padveiligheid by die twee hoofkruisings wat Sasolburg bedien. Die besonderhede van dié versoek kon egter nog nie onafhanklik bevestig word nie.

Die botsing het Donderdagmiddag 8 Oktober net ná 15:00 op die roete tussen Sasolburg en Vaalpark plaasgevind. Die polisie ondersoek die omstandighede van die ongeluk en ’n saak van strafbare manslag is geopen.

Die JCS Independent School in Vaalpark het die dood van drie leerlinge en Oosthuizen bevestig. Die name van die kinders is nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Die 10-jarige Dane Greyling is onder die beseerdes. Sy is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer. ’n Groepbefondsingsveldtog is begin om haar familie met haar mediese behandeling en herstelkoste by te staan. Teen die jongste beskikbare inligting het R92 487 van ’n teikenbedrag van R150 000 reeds ingesamel. Mense kan die veldtog ondersteun deur BackaBuddy se fondsinsamelingsblad vir Dane Greyling te besoek.

Dane Greyling.

Die moontlike oordrag van die R59 na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) is ook vanjaar bespreek. Volgens ’n berig in Parys Gazette op 16 April het minister van vervoer, Barbara Creecy, bevestig dat die proses begin het nadat die Vrystaatse premier formeel om die oordrag aansoek gedoen het.

In ’n opvolgberig op 19 Julie is gemeld dat die oordrag nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Geen latere amptelike bevestiging dat die proses afgehandel is, kon opgespoor word nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button