Local newsNewsNews

Hou depressie op ‘n afstand, brei ‘n trui

Die breinaalde klik-klak vrolik dwarsoor die Vaaldriehoek en die truie vir die Winter Angels projek word by die dag meer. Lees meer oor die besonderse projek van die Rotary Klub van Vanderbijlpark

Die Rotariër Klub van Vanderbijlpark se Winter Angels projek kry soveel ondersteuning dat daar reeds besluit is om dit nou jaarliks aan te bied.  Sowat 55 spanne van oral oor is besig om truie, serpe, musse, babakousies en klere te brei en te hekel.

Die naalde klap om seker te maak alles is gereed voor die sperdatum van einde April vanjaar. Daarna sal al die items in pakkies opgemaak word en onder behoeftige kinders versprei word. Jeanette Steyn Nortjé is die projekleier. Sy sê hulle het reeds begin om al die kinderhuise, huise van veiligheid en ander instansies te identifiseer waar die warm goed versprei gaan word.

“Hierdie jaar brei en hekel ons truie vir 1– 15-jariges, maar groter truie en truitjies vir babas is ook altyd welkom. Ons sien uit daarna om vir soveel as moontlik kinders elkeen ‘n pakkie met ‘n nuwe trui, serp en mus te gee,” het Jeanette gesê. Alhoewel hulle reeds heelwat items gekry het, is daar tans nog ‘n behoefte aan truie vir kinders vanaf agt jaar en ouer.

“As daar mense is wat graag wil saam brei en hulle kan regtig nie wol bekostig nie, kan hulle my kontak. Ons is in die proses om borge te werf wat wol kan skenk,” het sy gesê. Dit is vir die organiseerders verblydend om te sien hoeveel dames deel van die projek is en met hoeveel ywer daar gewerskaf word. “Die oudste dame van wie ek bewus is, is tannie Netta van Bultfontein in die Vrystaat. Sy is 97 jaar oud en brei nog vir ons truie,” vertel Jeanette.

Om vir so ‘n projek te brei of te hekel het natuurlik ‘n tweeledige doel. Nie net gaan dit wat geskep word kinders warm hou nie, brei en hekel het ook ‘n positiewe impak op ‘n mens se gemoedstoestand. Annatjie van Zyl brei en hekel nie net nie, sy maak ook sweetpakke vir die kinders.

Sy sê as sy fokus op haar handewerk, vergeet sy van al die ander probleme. “Dit maak my rustig. Hoe besiger ek is, hoe minder kry ek kans om te tob, veral in die huidige omstandighede met die Covid-19 pandemie. Die gedagte dat ek ander kan help deur dit wat ek doen, laat my ook beter voel,” het sy gesê. Indien jy sou belangstel om deel van hierdie projek te word deur truie te brei of babaklere te hekel, of as jy dalk wol kan skenk, kontak gerus vir Jeanette by 082 774 9537.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button