Local newsNewsNews

Fotobeeld: Willem (Whiskey 6) se roepsein is nou stil

VANDERBIJLPARK. - Wanneer plaaslike inwoners in nood verkeer, sal daar nie meer na Whiskey 6, Willem Gouws se roepsein, uitgereik kan word nie. Willem het die afgelope 21 jaar as brandweerman by die Emfuleni-munisipaliteit gewerk. Hy was ook ‘n staatmaker lid van die Vanderbijlpark CW-gemeenskapspolisiëringforum (hy het twee keer as voorsitter van die Vanderbijlpark CW-gemeenskapspolisiëringforum gedien). Willem is verlede Sondag met Covid-19 gediagnoseer en het Donderdagmiddag, 21 Januarie, die stryd verloor.

Deur Elsje Vermeulen

Willem is die derde brandweerman van Emfuleni wat weens Covid-19 gesterf het. Dat hy ’n groot rol in mense se lewens gespeel en ‘n groot leemte agterlaat, is Sondagmiddag bewys toe honderde inwoners ‘n gedenkrit tot sy eer ondersteun het. Die sirenes kon ver gehoor word soos wat die motors in gelid hul weg deur die dorp tot by Willem se huis in Goodyearstraat gevind het. Die mense het hul motors om die hoek van sy huis in ‘n parkeerarea gelos en na sy woning gestap. Daar is ‘n geraamde foto van Willem aan sy vrou Nicky en seun Jayden oorhanding, waarna ‘n gebed gevolg het en mense die geleentheid gekry het om blomme neer te lê en kerse aan te steek.

Dit was duidelik uit dié pragtige gebare dat Willem ‘n groot impak in die gemeenskap gehad het. Die Communiy Support Forum (CSF) het dié boodskap gedeel: “Willem het sy stryd teen Covid verloor, maar hy sal altyd in ons harte en gedagtes voortleef. Hy was ‘n ongelooflike staatmaker in die stryd teen misdaad en het altyd ‘n helpende hand verleen. “Ons innige simpatie aan sy vrou Nicky, Jaden en al sy geliefdes. Mag ons Hemelse Vader jul dra en vertroos in hierdie hartseer tyd. Ons gaan jou stem op die groepe mis Willem. Saluut aan ‘n ongelooflike mens. Mag God jul vertroos in hierdie tyd.”

Gestorwe plaaslike held en brandweerman Willem Gouws.

Gerda Senekal VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het ook haar medelye teenoor Willem se familie uitgespreek. Sy het dit egter beklemtoon dat dié party reeds sedert die uitbreek van die pademie die Emfuleni-munisipaliteit telkens versoek om toe te sien dat brandweervoertuie, asook die brandweerstasie, gereeld ontsmet word. Die brandweerstasie is glo in November verlede jaar laas ontsmet.

“Die munisipaliteit het in 2020 ‘n bedrag van R2 miljoen bewillig vir die aankoop van persoonlike beskermende toerusting vir nooddienswerkers. Die toerusting het nooit die mense bereik nie en hulle was genoodsaak om hul eie handskoene en ontsmettingsmiddels aan te koop. Die Emfuleni-munisipaliteit se onvermoë om die nodige beskermende toerusting aan te koop, plaas die lewe van nooddienswerkers in gevaar,” sê rdl. Senekal. Sy het afgesluit met die belofte dat die VF Plus daarop gaan aandring dat die toerusting dadelik aangekoop word en die brandweerstasie en voertuie ontsmet word.

* Willem was een van ‘n tweeling. Sy tweelingbroer Jan, is jare gelede doodgery toe hy met sy fiets op pad was werk toe.

Nicky en Jaden Gouws is verlede Sondagmiddag met liefde en ondersteuning deur die gemeenskap oorval tydens ‘n gedenkrit en kers-seremonie om hulde te bring aan Willem. Foto: Elsje Vermeulen
Die gedenkrit ter nagedagtenis van Willem. Die sirenes kon ver gehoor word en daar was ‘n lang gevolg. Foto: Shane Pretorius
Daar is om die hoek van Willem se woning in Goodyearstraat in ‘n parkeerarea bymekaar gekom, voordat daar na sy woning gestap is. Foto: Shane Pretorius
Die groot groep onderweg na Willem se woning. Foto: Elsje Vermeulen
Willem se vrou en seun het die groep ingewag en die voortou tot by die huis geneem. Foto: Elsje Vermeulen

Daar is met gebed geopen voordat mense die geleentheid gehad het om kerse aan te steek en blomme neer te lê. Foto: Elsje Vermeulen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button