Vuil water uit kraan is die laaste strooi!
Mirinda Brits van Bobby Lockestraat in Unitaspark woon reeds die afgelop 49 jaar in haar huis en was onlangs geskok toe sy vir die eerste keer in al die jare die kraan oopmaak en daar vuil water uitgeloop het.
“Ek het nog nooit sulke water uit ‘n kraan sien loop nie. Dit maak vir my sin dat daar in die laaste ruk so baie mense is wat maag aandoenings gekry het, want op die oog af lyk die water helder tot jy dit in iets gooi en regtig sien hoe vuil dit is,” sê Mirinda.
Sy voel dat dit gepaard gaan met die algehele agteruitgang van die eens mooi Vereeniging. “Dit is absoluut hartseer om te sien hoe alles verval. En na die amper 49 jaar wat ek hier bly, het die Emfuleni Munisipaliteit my geen keuse gelaat as om hulle agter te laat en te verhuis nie. Ek sien nie meer kans vir die agteruitgang nie. As jy nie vir dae aaneen sonder krag sit nie, dan moet jy geld uithaal om jou kar se bande reg te maak, want iewers gaan jy beslis ‘n slaggat raak ry en dan as jy nie sonder water sit nie, dan kry jy vuil water.”

