Kyk hoe lyk gebreekte enkel nou
SASOLBURG. - “Daar lê nog ‘n lang pad vir Christo voor, maar dit gaan reeds beter. Ons kan nie genoeg dankie sê vir al die raad en ondersteuning uit die gemeenskap nie,” sê Nadia Landman, wie se man Christo, vir die afgelope vier maande deur diep waters moes gaan, met wat as ‘n gebreekte enkel begin het.
Die berig oor Christo (36) het in verlede week se Vaalweekblad, asook op Vaalweekblad se webtuiste verskyn en die belangstelling was oorweldigend. Daar is hope raad gedeel, fondse ingesamel en selfs Amanda de Lange (Hoofsweep van die VF Plus: Gauteng) het hulp aangebied.
Alles hang nou af van Christo se opvolgbesoek aan die Universitas-hospitaal in Bloemfontein hierdie Maandag (8 Februarie). As die gat in die enkel nie begin heg nie, kan niks gedoen word nie en dan sal Christo nog langer van die werk af moet wees. Hy is die gesin se hoofbroodwinner en kry nie ‘n salaris as hy nie kan werk nie.
Intussen help ‘n privaatsuster van Vaalpark hulle om die wond skoon te hou. “Sy is ‘n engel van Bo, want anders sou my man al lankal sy voet verloor het. Ons is dankbaar vir al die raad en hulp wat ons ontvang het,” sê Belinda.
Die Landmans se nagmerrie ondervinding het op 2 Oktober begin toe Christo aangerand en op sy enkel geskop is. Nadia het hom na die Sasolburg-hospitaal geneem, vanwaar hy na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad verwys is.
Christo was daar op 4 Oktober, maar die opeasie kon glo eers op 14 Oktober gedoen word.
Christo is toe op 14 Oktober opgeneem, maar moes ‘n week wag voordat die operasie uiteindelik op 21 Oktober gedoen is. Daarna het die enkel in so ‘n mate ontsteek geraak dat die Landmans gevrees het dat Christo sy voet gaan verloor. Die dae en weke het aangestap en na verskeie besoeke en geen verbetering nie, het Nadia genoeg gehad en aangedring dat Christo eerder na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas word. Om die rede was daar weer hoop en verbetering.
“Die gat in sy enkel moet heg voordat die veloorplanting gedoen kan word. Die plate en skroewe moet ook uitgehaal word, want die dokter in Bloemfontein het reguit gesê die skroewe gaan deur die dun vel druk,” vertel Belinda.
* Die Landmans beoog op regstappe teen die Kroonstad-hospitaal te neem.


