Norman, ‘n hengelkampioen van formaat
Ontmoet een van die Vaal se hengelkampioene, Norman Steyn. Lees meer oor hom hier ...
VANDERBIJLPARK. – Norman Steyn (28) het nog al die jare van visvang gehou, maar op 14 Februarie 2015 het die gogga hom behoorlik gebyt. Dit was die dag waarop die Suid-Afrikaanse Varswater Oewer Hengel Federasie (SAVOF) hul eerste vriendskaplike byeenkoms vir hengelaars met gestremdhede aangebied het.
Dié byeenkoms het soveel belangstelling ontlok dat daar ‘n liga met vyf kategorieë vir mense met gestremdhede gestig is. Elke kategorie het ‘n bepaalde stel reëls waaraan ‘n deelnemer moet voldoen. Norman is met spierdistrofie gebore en daarom neem hy in kategorie 1 deel.
“Dit beteken ek het ‘n helper wat, onder andere, namens my mag ingooi. Ander kategorieë het weer ander reëls, byvoorbeeld, die mense wat in kategorie 2 hengel, maak almal gebruik van rolstoele, maar hul moet self ingooi,” verduidelik hy. Hengelaars moet by ‘n klub aansluit en vandaar provinsiale proewe gaan vang, alvorens hul vir die jaarlikse nasionale kampioenskappe kan kwalifiseer.
Norman het tot dusver aan elke nasionale kampioenskap deelgeneem en het al sy SAVOF kleure verwerf. Sy viskas is sy trots en staan altyd gereed. Sy verloofde het sy naam en ‘n lys met elke dip, spray en float aan die binnekant van die deksel aangebring. Die nommers op die lys stem ooreen met die donker botteltjies in die kas.
Tipies visserman is hy ontwykend oor watter aas nou eintlik die beste werk. “Ek doen maar navorsing voor die tyd, want by elke oewer byt iets anders en dan besluit jy wat jy die dag van die kompetisie gaan gebruik,” verklaar hy. Sy gunsteling plek om te gaan visvang is by RPA langs die Vaaldam.

Hy reken die grootste vis wat hy al uitgetrek het, was ‘n karp van so by die 6 kg. “Ons catch en release. Ek eet nie damvis nie, behalwe as oom Frikkie Nel die vis gaarmaak. Hy het ‘n geheime resep,” beduie hy.
Naas visvang, geniet hy dit ook om te teken. Wanneer die tekengier hom beetpak, teken hy sommer dae aanmekaar. Norman het in Vanderbijlpark grootgeword en is ‘n trotse oudleerling van die Hoërskool Driehoek. Na matriek het hy sy kwalifikasie as tekenaar (draughtsman) aan CTU Private Training Solutions in Vereeniging verkry. Een van sy groot drome is om ‘n voltydse werk as tekenaar te kry … en natuurlik om eendag die swaarste sak vis by die nasionale kampioenskappe te vang!
Besoek gerus die facebookblad, Freshwater Fishing for the Disabled, vir meer inligting oor hoe om deel van hierdie sport te word.
