Slaggat-toep ontwerper gesoek!
Net dronk mense ry reguit in Vanderbijl. Lees hier wat ek dink kan werk ... So 'n tong-in-die-kies staaltjie, want as ons ophou glimlag het ons moeilikheid.
VANDERBIJLPARK. – Onlangs het ek ‘n onderhoud in Anreithstraat, SE1. Ek kom van Frikkie Meyer-boulevard se kant af en dit gaan heel goed, behalwe vir so ‘n paar gate in die pad. Nie vir doodstop nie, net vir mooi ry. Soos mens maar oral kry. Na die onderhoud draai ek links in plaas van regs, met die gedagte om die gate te omseil. Fout! Ek beland in President Steynstraat, vlak nadat dit Merrimanstraat kruis. Die pad was op een plek meer gat as pad. Boonop was daar nog water ook … en dit het nie gereën nie. Dit het nie vrot geruik nie, so ek het die afleiding gemaak dat dit nie rioolwater was nie. In Vanderbijlpark weet mens mos nooit. Ek het summier voor die naaste erf se hek gaan stop en uitgespring om foto’s te neem. Op daardie stadium het daar ‘n paar voertuie verbygekom. Elkeen moes eers tot stilstand kom en dan hul weg oor die mini sinkgat-vallei vind. Almal groot, hoë voertuie. Goed so, want ek sal niemand aanraai om met ‘n laer motor daar te probeer deurry nie. Ek het ook omgedraai en ‘n ander pad gery. Ek weet omtrent elke straat in Vanderbijlpark en Vereeniging lyk net so erg of erger. Ek dink byvoorbeeld aan Rossini-boulevard waar slegs ‘n dronk mens reguit kan ry … Wat staan ons te doen? Nie almal kan dit bekostig om teersakkies te koop en eiehandig laslappies in die strate te maak nie. My oupa het paaie gemaak, maar dit was voor my geboorte en ek het nie sy gene geërf nie. Miskien kan een van die slim jongelinge ‘n slimfoon toep (app) ontwerp wat mens vooraf waarsku waar elke gat in die pad is en met watter tipe voertuig ‘n mens dit in elke straat kan waag. Kan mens nogal tyd, geld en bande spaar!
