Die juffrou met die stem wat gehore bekoor
Juffrou Rika is nie net Eureka Skool se Gr. 3 onderwyseres nie, sy het ook 'n besonderse sangtalent. Lees meer oor die dinamiese onderwyseres hier ...
VANDERBIJLPARK. – Weeksdae is Juf. Rika Dippenaar die een wat die Graad 3’s (12/13-jariges) by die Eureka Skool vir fisiese en intellektueel erg gestremde leerlinge met hope liefde en geduld leer. Sy dink gedurig nuwe maniere uit om die klasse so prakties moontlik te maak.
“Ek is gek oor Pinterest. Die Amerikaners het altyd nuwe idees en ek hou daarvan om hul goed vir my klasse aan te pas,” beduie sy. Dis nou wanneer sy tyd kry. Rika se tyd is beperk. Naas haar Gr. 3 klasse, is sy ook Eureka Skool se kultuurorganiseerder. “Ons hoop om in 2021 ‘n revue by die skool aan te bied. Voorlopig noem ons dit A New Journey,” vertel sy opgewonde.
Onderwys is haar roeping, maar musiek is Rika se hartklop. “Ek is gebore om te sing. Wanneer ons weg is met vakansie, kry ek onttrekkingsimptome omdat ek nie klavier kan speel nie. My ma sê ek het op goed getokkel lank voor ek kon praat,” lag sy. Sy was 7 jaar oud toe sing sy die eerste keer alleen voor in die kerk. Sedertdien het sy nog nooit opgehou nie.
In November en Desember was sy baie besig met al die Kerssangdienste. Die een naweek het sy en Gert Beukes saam met die Oosrandse Jeug Simfonie Orkes in Westonaria opgetree. Dit was die eerste keer wat sy onder begeleiding van ‘n simfonie orkes gesing het. Na die vertoning moes sy haas om betyds te wees vir NG Kollegepark se Kerssangdiens.
Dan was daar nog Vaalrivier Gemeente se Kersprogram 2020 op 6 Desember en Eureka Skool se Dankseggingsdiens op 4 Desember. Rika het ‘n rol gehad om te vertolk by elkeen en ten spyte van al die ure se oefen en rondry het dit haar soos ‘n handskoen gepas.
In Februarie 2020 was sy ook deel van die Vereeniging Operatic and Dramatic Society (VODS) se Musical Extravaganza. Sy het die ervaring baie geniet en sê: “Dit was verskriklike harde werk, maar baie pret. Ek sal dit enige tyd weer doen.”
Sy het nie net ‘n besonderse sangstem nie, sy kan ook klavier en kitaarbegeleiding doen. Vir haar bly die mooiste mooi egter steeds die klanke van ‘n tradisionele pyporrel. Juis daarom geniet sy dit om orrelis by NG Kollegepark te wees. “Daardie kerkgebou se ou pyporrel doen dit net vir my,” vertel sy.
Rika glo mens moet altyd doenig bly. Dié dat die inperkingstyd verlede jaar vir haar so moeilik was.
Sy het besig gebly deur klavier te speel en in hul groentetuin te werskaf. “Ten minste het ons die jaar ‘n goeie tamatie-oes. Ons het ‘n welige groentetuin, want alles groei mos as ek daarmee praat,” lag sy.
Alles ja, inderdaad, van die plante in die tuin, tot by die mense wat sy begelei en die leerlinge in haar klas wat gedy onder haar aandag, liefde en begrip.
