Warm koffie afgelewer sonder mors
Twee Vaalies se unieke denke maak nuwe deure vir koffiewinkels oop. Lees hier meer ...
VANDERBIJLPARK. – Wat is lekkerder as ‘n beker regte-egte warm koffie? Daardie spesiale koffie soos wat net jou gunsteling koffiewinkel kan maak. Maar wat as jy nie nou tyd het om die koffiewinkel te besoek nie? Dit help ook nie jy stuur iemand om te gaan koffie koop nie, want teen die tyd wat hul terug is, is die koffie koud. Eugene Jensen en Johan Peek, twee vriende van Vanderbijlpark, het besef koffie kan dalk bestel word, maar in watter toestand word dit afgelewer? ‘n Geswore koffieliefhebber wil tog die koffie presies reg hê. Die twee het aan die werk gespring en aanhou karring totdat hul dit reggekry het om ‘n boks te ontwerp wat wegneem koffie stewig in plek hou en die temperatuur reguleer.

Hulle het baie koffie gemors, maar uiteindelik ook met twee seëls vorendag gekom wat netjies oor die beker pas alvorens die deksel opgesit word. “Die eerste seël hou die stoom binne en die tweede een seël die deksel,” beduie Eugene en gooi summier ‘n beker vol koffie in die lug as bewys dat hulle plan werk. Hul ontwerpe is gepatenteer en staan nou bekend as CoffeeLIFT, kompleet met ‘n toep wat op slimfone afgelaai kan word. “Die boks is uniek. Dis rewolusionêr in die speelgrond van coffee shops,” vertel Eugene opgewonde oor ‘n warm cappuccino. “Ons help die plaaslike koffiewinkels en verskaf werk aan mense wat bereid is om aflewerings te doen. Elke drywer word per aflewering betaal. Dit was vir ons van die begin af baie belangrik. Ons wil regtig help en ‘n verskil maak. Jy weet, ons wil nie die wêreld los soos wat ons dit gekry het nie,” raak hy ernstig. “Elke keer as jy iets deur die CoffeeLIFT Toep bestel, help jy iemand anders en ondersteun jy een van ons plaaslike besighede.” Hy haal een van die swart kussings uit wat die koffiebekers in die boks bedek en sê trots: “Selfs die boks se stoffering word plaaslik gedoen. Hierdie kussings word deur Prince gestik. Kyk hoe netjies doen hy dit.” Mense kan die toep gebruik om onder meer koffie, koek en pizza van ‘n hele paar privaat koffiewinkels in Vanderbijlpark te bestel. Hulle het ook reeds drywers en koffiewinkels in Potchefstroom gelys en is besig met onderhandelings in Johannesburg en Kaapstad. Koffiewinkeleienaars en drywers wat graag deel van die CoffeeLIFT Movement wil word, kan vir Melanie Strydom by 082 564 0184 kontak.
