Local newsNewsNews

Onthou-bere uit ou klere

Ontmoet Charlene en haar vrolike bere wat sy uit ou kledingstukke optower. Lees meer hier ...

SASOLBURG. – Charlene Venter versamel poppe, veral die wat soos pasgebore babas lyk. Elkeen het ‘n naam en elkeen is kunstig gemaak deur meesters op die gebied. Sy het ook ‘n kas vol klere vir die poppe wat in die babakamer uitgestal word. Nooit het sy gedink dat haar liefde vir poppe ‘n heel ander tydverdryf tot gevolg sou hê nie.

“‘n Vriendin het eendag vir my twee babygrows gegee wat haar oorlede man nog vir haar kleinkind gekoop het. Dit het nie een van my poppe gepas nie. Ek het besef dit het sentimentele waarde vir haar en toe maak ek vir haar ‘n beer van die babaklere. Hulle noem dit ‘n Memory Beer,” vertel Charlene.

Dit was twee jaar gelede. Sy het gou besef dat daar regtig ‘n behoefte na die onthou-bere is. “Mammas vra my om bere van hul babas se klere te maak en ek het al vir mense beertjies van hul oorlede pa se klere gemaak. Ek weet een van my beertjies is nou in Ierland,” glimlag Charlene.

Sy het vir haar ma ‘n beer gemaak van ‘n hemp wat haar ouma gedra het. Die besonderse blou beertjie heet Moeksie en sy het krale om die nek en oorbelle aan, want “my ouma was so lief vir kraletjies.”

Elke beer word met die hand gemaak en een beer kan haar ‘n hele dag besig hou. Alhoewel sy gewoonlik die klere opsny om die bere te maak, het sy al mense gehad wat gevra het dat sy net ‘n beer moet aantrek en nie die klere opsny nie.

“Ek het ook al vir mense hasies gemaak,” sê sy en gaan haal ‘n groot wit beer en ‘n kleiner hasie. “Hierdie is Abigail en haar maatjie. Ek het hulle eerste gemaak om seker te maak dit gaan werk.”

Die bere kan van byna enige materiaal gemaak word en elkeen kom anders uit. Wat hul wel almal in gemeen het, is dat hulle met groot liefde aanmekaar gesit is. Indien jy meer wil weet, vra gerus om Charlene op instagram te volg by @vecharlene.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button