Waar is die perdjie?
Die slag toe ek die eerste keer met 'n Mustang kennis gemaak het.
Nou se dae het ek nogal ‘n sagte plekkie vir ‘n Mustang, om na te kyk, nie om in te ry nie. Sportmotors is hopeloos te laag op die teerpad. Ek hou van hoogsit. Die liewe lesers moet asseblief my onkunde verskoon en ook besef dat hierdie gebeure ‘n hele paar jaar gelede by ‘n buitelugskou plaasgevind het.
Ek is nie ‘n kenner van motors en enjins nie, dus was my verbasing groot toe almal wat net lyk asof hulle manlik kon wees, totaal oorstuur geraak het by die aanskoue van die plat wit gevaarte tussen al die ander motors op skou. Al wat seuntjie is se ma moes ‘n foto van die Mustang neem. Vir party was die oomblik so groot, hulle wou nie eens saam op die foto verskyn nie! “Nee, net die kar Ma!” het ek gereeld gehoor.
Kyk, daar is om die motor geloop en weer geloop. Met respek. Net gekyk. Nie gevat nie. Groot manne het in hul spore vagesteek en net gestaan en staar. Dan was daar kort-kort die dapperes wat nader gestaan het met: “Sal Oom asseblief daai Mustang kom start oom?” Die Ford-ooms het nie elke keer ja gesê nie.
Het hulle dit wel die slag gedoen, was daar ‘n eerbiedige skare wat nadergestaan het om na die magtige dreuning te luister. Ai, en as hulle onder die enjinkap kon kyk … kon mens sommer voel hoe styg die adrenalienvlakke.
Maar, die beste was die dogtertjie, seker so drie jaar oud, wat ook haar weg verby die Mustang gevind het en toe voor een van die ander voertuie beland het. Sy het lank vir die motor gekyk. Ek het gesien sy frons. Uiteindelik het sy ‘n handjie uitgesteek, oor die logo gevryf en gevra: “Mamma, waar is die perdjie?”
Ek moet bieg, op daardie stadium was dit ook al hoe ek geweet het watter een was die sportmotor – ek het net gesoek vir die een met die perdjie!
