MEYERTON – Anika Williams het op sesjarige ouderdom haar eerste skaakstuk oor die blokkiesbord geskuif. Sy het destyds saam met haar boetie toernooie bygewoon en toe eenvoudig besluit sy wil ook speel. Vandag, jare later, dra daardie besluit vrug.
Haar skaakdroom het vlerke gekry. Van 14 tot 23 Mei verteenwoordig sy Suid-Afrika by die Afrika Jeug Skaakkampioenskap in Uganda.
Die jong leerling aan die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton sonder twee mense uit wat haar liefde vir die spel help vorm het.
“My huidige afrigter Martin Botha en my eerste skaakafrigter, Wilna de Koster,” sê sy. Haar grootste ondersteuners is haar familie en die skaakgemeenskap.
Maar die lewe van ’n toegewyde jong sportster is nie altyd maklik nie. Die balans tussen skoolwerk, tennis, kultuur en skaak vra baie. “Dit is nogal uitdagend en soms sukkel ek om kop bo water te hou,” erken sy.
Toe die oproep kom dat sy Uganda toe gaan, was dit ’n oomblik van suiwer opgewondenheid. Hierdie toernooi dra groot betekenis vir haar. “Ek het voorheen al gekwalifiseer vir die Statebond, maar weens Covid en kostes kon ek nie deelneem nie.
So hierdie toernooi is ’n groot mylpaal in my lewe.” In Entebbe, Uganda, bly sy by die Imperial Botanical Beach Hotel, met ’n uitsig oor die Victoria-meer.
Die omgewing laat ’n blywende indruk.
Die mense is baie vriendelik. Dit is ’n voëlryke omgewing met ooievaars, valke, visvangertjies en papegaaie. Maar die spinnekoppe is so groot soos my hand,” lag sy.
Die toernooi self voel darem bekend. “Dit verskil nie baie van ons RSA-toernooie nie.” Tog is haar doel duidelik. “Om soveel as moontlik rondtes te wen, my strategieë te volg soos ons beplan het en net baie ervaring op te bou.” Anika beskryf haarself as ’n aanvallende skaakspeler.
In die hitte van ‘n stryd hoor sy altyd haar afrigter se stem: “Daar’s altyd ’n beter skuif. Moet nie ’n dom skuif maak nie.”
Sy volg die Sweedse speler Anna Cramling omdat hulle soortgelyke foute begaan en dieselfde skaakstrategieë aanwend.
Wat min mense weet, is dat Anika haar passie en kennis met ander deel. “In my vrye tyd bied ek skaaklesse aan vir jong skaakspelers.”
In vyf jaar se tyd visualiseer sy haarself met ’n skaaktitel agter haar naam, maar vir nou is sy net dankbaar en trots. Haar raad aan jong spelers is eenvoudig.
“Moet nie opgee nie. Hou altyd aan veg, oefen gereeld en luister altyd na jou afrigter.”
Buite die skaakwêreld ontspan sy graag deur saam met vriende en familie te kuier en natuurlik baie te slaap, sê sy met ‘n breë glimlag.
Sy beskryf haarself as selfgedrewe, gemotiveerd en vol uithouvermoë. Drie woorde wat beklemtoon hoekom sy haar plek op die Afrika-skaakverhoog verdien.