News

Botsing ná munisipaliteit se koppigheid – AfriForum

Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivierstreek, meen amptenare se ego’s staan in die pad van motoriste en voetgangers se veiligheid.

“’n Botsing waarby twee voertuie op 19 Mei by ’n kruising in Parys betrokke was, kon voorkom gewees het as die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sy hardkoppigheid laat staan het en ’n skenking, ter bevordering van padveiligheid, van AfriForum se Parys-tak aanvaar het,” het AfriForum in ‘n mediaverklaring gesê.

Die botsing het plaasgevind op die hoek van Kort- en Wesstraat – een van die kruisings wat AfriForum ’n geruime tyd gelede as risiko geïdentifiseer het weens die afwesigheid van stoptekens en duidelike padmerkers.

“Die munisipaliteit hou hom egter reeds sedert verlede jaar doof vir AfriForum se waarskuwings oor die tekort aan stoptekens by verskeie kruisin. Boonop is die skenking van 16 nuwe stoptekens deur die plaaslike AfriForum-tak ook verlede jaar van die hand gewys,” lui die verklaring.

AfriForum se Parys-tak het in Mei verlede jaar 16 stoptekens aan Bernie Mc Dermott, Ngwathe se verkeershoof, oorhandig.

“Dr. Futhuli Mothamaha, munisipale bestuurder, het egter die skenking van die hand gewys. Hy het aangevoer dat AfriForum nie die regte prosedure gevolg het nie en nie toestemming gekry het om die skenking te maak nie,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Mooirivierstreek.

Intussen het die munisipaliteit dit laat blyk dat die stoptekens wat die tak geskenk het, nie opgesit kan word nie omdat daar ’n plakker met AfriForum se logo agterop geplak is.

Een van die twee voertuie wat op 19 Mei by ’n kruising in Parys betrokke was. Foto: AfriForum

Ondanks die tak se aandrang dat die betrokke plakkers dan verwyder moet word en die stoptekens opgerig moet word, is dit steeds nie gedoen nie.

“Dit is tyd dat die aanspreeklike persoon, naamlik die munisipale bestuurder, persoonlik verantwoordelik gehou word vir ongelukke wat veroorsaak word deur die gebrek aan verkeerstekens en skade aan voertuie wat spruit uit die talle slaggate in die dorp,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

“As die munisipaliteit die geld wat hulle vermors om teen hofuitsprake te appelleer, gebruik het om die paaie in stand te hou en verkeerstekens op te rig, sou die hele Parys by elke kruising vier stoptekens gehad het,” sluit Pretorius af.

Raak betrokke

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou.

Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button