Krukke is sommer net yuk!
Op 'n ligter trant. Ek en krukke spel fiasko. Lees hier meer ...
Ek en krukke spel fiasko. Ek moet dit liewer nie eens vir iemand anders dra nie, want die kanse is goed dat ek of my maermerrie gaan blou stamp, of iets êrens daarmee gaan afstamp.
Ek is mos nou weer op die krukkelys. Lang storie oor ou skroef wat moes uit en nuwe skroewe wat moes in en ‘n fusion van gebeentes.
Hoë woorde wat net die slim ortopeed en sy kollegas verstaan. Ek weet net dis seer. Lelik seer. Huil seer. Vloek seer.
Ek het ook besef ons bure is almal hardhorend. Dit was nou nadat ek Sondagaand twee keer gille geuiter het wat Antjie Somers se nekhare sou laat rys.
Die eerste keer was ek in my stadige kruk-kruppel stappie op pad van die badkamer na die slaapkamer.
Ek plant die krukke elke keer baie naby voor my, sorg my seer voet vat nie grond nie en trap dan deur met die linkerbeen wat al hoe meer protesteer oor die skielike en onregverdige verdeling van die werkslading.
(Ek hoor my linkerbeen dink daaraan om ‘n unie te vorm saam met my maag en armspiere en my voor die Arbeidshof te daag).
Dis toe ek regs weer op ‘n kolletjie neersit, wat ek besef daardie kolletjie is gladder as die ander kolletjies. Alles gebeur gelyk. Die kruk gly vorentoe.
Ek voel my regterskouer en armspiere ruk stokstyf en, ellende van ellendes, die geswore gipsvoet vat grond. Dis toe dat ek gil. Of nee, ek het gevloek. Een woord, baie laag uitgespreek vir baie lank.
Pa kom om die hoek gestorm en raas met die eerste hond wat hy sien. Ma, helfte kleiner as ek, probeer my regop hou.
Ek herwin my balans. Probeer verduidelik van die miniatuur gladde kol, hop tot by die bed en sak ineen.
Ek wag in spanning vir die polisie, die brandweer of ten minste my redakteur om te bel om te sê hulle hoor hier was ‘n steurnis. Niks gebeur nie. Ons buurt is gewoond aan baie …
Na ‘n rukkie pla iets by my gegipste voet my. Die fisioterapeut het gesê ek moet die tone elke dag so ‘n bietjie beweeg.
Voel nou vir my alte veel ek beweeg net die eerste drie. Ma moet kom kyk of is die ander twee darem nog daar.
“Ja,” sê Ma en vat aan my kleintoontjie. Volgende oomblik toe skop my regterkuit in ‘n kramp in.
Die keer gil ek net, want die kramp was onverwags en hoe strek mens nou ‘n kuitspier in gips?
Ma bring summier vir my ekstra magnesium en Kleinsus Antjie kom loer simpatiek of sy dalk ‘n poot kan bysit.
Die eerste week is verby.
Nog net 11 weke oor dan kan ek weer self bestuur. Dis nou as ek en die krukke ongeluksvry kan bly!
