Rassisme saak teen Gert geskraap met kostes
Sy aanklaers moet nou kostes betaal nadat die saak teen Gert Janse van Rensburg geskrap is met kostes.
VAALPARK – Wat oorspronklik begin het as ‘n storm in ‘n teekoppie, het by die Menseregtekommissie en die hof gedraai.
Bekende sakeman en entrepreneur Gert Janse van Rensburg is van rassisme beskuldig. Die saak het van 2023 gesloer totdat dit uiteindelik verlede week met kostes van die rol geskraap is.
Gert is onskuldig, soos wat sy werkers en ondersteuners die heeltyd geweet het. Dit het alles begin tydens die Covid-pandemie. Die restaurant, toe genaamd The Bar with no Name, het aan Gert behoort en was operasioneel.
In hierdie tyd het iemand (niemand is seker wie die skuldige was nie) foto’s van onder andere voormalige president Jacob Zuma, president Ramaphosa en Julius Malema in die urinale van die restaurant se badkamer geplak.
Die bestuur is ingelig en dis verwyder. Ongelukkig nie voordat iemand ‘n video op sosiale media geplaas het nie. Die video is na sowat ‘n week verwyder, maar het twee jaar later weer kop uitgesteek.
Lank na die voorval is ‘n vrou aangestel. Sy moes egter na ‘n paar maande afgedank word nadat bewyse gevind is dat sy die stelsel gemanipuleer en geld gesteel het. Nadat sy ‘n bohaai oor haar afdanking gemaak het, het Gert, die EFF en die voormalige burgemeester van Sasolburg, Jeff Zwane, vergader.
Daar is bevind dat die bestuur van die restaurant reg opgetree het om haar af te dank. Sy het die video in die hande gekry en ‘n saak teen Gert, die bestuurder en twee kelners by die Menseregtekomissie gaan maak.
Gert is dadelik uitgekryt as ‘n rassis en die hofsaak teen hulle het begin. Dis keer op keer uitgestel. Intussen het Gert deur hel gegaan.
Ten spyte van die feit dat die werknemers van sy vele besighede bankvas agter hom gestaan het, het die oorhoofse media hom in hul uitsendings en artikels uitgekryt en sleggesê.
“Dit was nie lekker nie. Dit was ‘n swaard wat lank oor my kop gehang het. Nou voel dit asof ‘n berg van my skouers af is,” sê Gert.
“Hierdie hele besigheid was die een liegstorie na die ander. Ek kan nie verstaan hoe speel mense steeds die rassismekaart nie. Ek is beswadder oor iets waarmee ek niks te doen gehad het nie.
“Al wat ek wil doen is om mense te help om hul volle potensiaal te bereik. Ons is een nasie en ons moet een doel voor oë hê, om na ons mense te kyk en ons land te herbou.”