Veldjie langs kleuterskool opgeruim
Dis goed om te sien hoe mense saamwerk om die dorp weer leefbaar te maak. Lees meer hier ...
VANDERBIJLPARK. – Veldjies in die CW gebiede wat al vir jare as deurlope vir skoolkinders dien, het nou in ashope ontaard en hou ‘n gesondheidsgevaar in. Een so ‘n veldjie is reg langs een van die dorp se oudste kleuterskole in Einsteinstraat in CW2. Die hope rommel word ook van tyd tot tyd aan die brand gesteek wat ‘n verskriklike reuk afgee. Rudy Francis en Chris Smuts, eienaars van TiAmo Cosmos, het besluit genoeg is genoeg.

Hulle het donasies verkry en saam met Jonathan van Dyk en Jannie du Plessis ingespring om die stukkie aarde skoon te kry. Dit het ‘n hele paar dae geneem, maar die veld was teen 11 Februarie vir die eerste keer in baie maande weer skoon. “Die skole heropen weer en dan moet kinders deur die veldjie stap. Bejaardes gebruik dit ook. Ons kon dit nie net so los nie,” het Rudy gesê. “Ons hoop om nog donasies te verkry om al die veldjies naby skole in die CW gebiede te kan skoonmaak. Ons maak nie geld hieruit nie, dis net om ons eie onkostes te dek met die wegry van die rommel.” Rudy het bygevoeg dat hulle ook bereid is om die skoon veldjies te onderhou. “Ons doen self die werk. As enige een bereid is om ons te help, sal dit hoog op prys gestel word. As almal saamspan, kan ons weer vir almal ‘n veilige omgewing skep.”

Hy het ook ‘n beroep op mense gedoen om asseblief nie hul vuilgoed in die veldjies te gooi nie. Mense wat belangstel om ‘n bydrae (hoe gering ook al) te lewer, of bereid is om saam te kom om rommel op te tel, kan Rudy by 061 482 9412 kontak of ‘n boodskap op hul Facebookblad, @TiAmo Cosmos, laat.
