Local newsNewsNews

ArcelorMittal: Aditya is nuwe wêreldwye uitvoerende bestuurshoof

ArcelorMittal het verlede week aangekondig dat Aditya Mittal (45) as nuwe wêreldwye uitvoerende bestuurshoof van die onderneming aangewys is. Dié internasionale posisie maak hom effektief ook grootbaas van die staalvervaardiger se werksaamhede in die Vaaldriehoek.

Aditya was voorheen president en finansiële bestuurshoof van die onderneming, wat in 1976 deur sy pa, Lakshmi Mittal, met ‘n klein walsery in Indonesië begin is. Lakshmi, een van die rykste mense in die Verenigde Koninkryk, het die onderneming in die afgelope 40 jaar tot ‘n wêreldwye onderneming uitgebou. Hy besit steeds 36% aandele in ArcelorMittal maar beplan om voortaan nie meer by die dag-tot-dag bedrywighede van die onderneming betrokke te wees nie. Hy sal voortaan as uitvoerende voorsitter dien.

Aditya het ‘n graad in ekonomie, strategiese bestuur en korporatiewe finansies aan die Wharton School in Pennsylvania, Verenigde State, behaal en het die afgelope 20 jaar as “vakleerling” onder sy pa se leidende hand gewerk. Die jonger Mittal het reeds sy eie stempel op die onderneming afgedruk, veral met sy deurslaggewende rol in die oorname van die Europese staalvervaardiger, Arcelor. Na die stigting van ArcelorMittal in 2006 het Aditya verskeie senior leiersposisies beklee, insluitend bestuurstoesighouer oor die Groep se platproduk-koolstofstaalondernemings in die Amerika’s en Europa, benewens sy rol as finansiële bestuurshoof en lid van die groepsbestuur.

In 2008 is Aditya deur CNBC Europe as ‘Europese sakeleier van die toekoms’ aangewys en in 2011 het hy die vierde plek in die Fortune-tydskrif se ‘40 onder 40’-lys vir jong nyweraars behaal. Volgens ArcelorMittal se amptelike webblad is Aditya ‘n aktiewe filantroop met ‘n besondere belangstelling in die gesondheid van kinders. Hy en sy vrou Megha is groot ondersteuners van die Great Ormond Street Children’s Hospital in Londen en het ook die Mittal Children’s Medical Center befonds. Die egpaar werk ook nou saam met die United Nations Children’s Fund (Unicef) om die gesondheid en voeding van kinders in Indië te verbeter. In ‘n onderhoud met Bloomberg News het Aditya gesê een van sy hoofdoelwitte is om ArcelorMittal se werke “groener” en meer omgewingsvriendelik te maak deur die staalreus se koolstofvoetspoor te verklein.

Aditya Mittal (45), ArcelorMittal se nuwe wêreldwye uitvoerende bestuurshoof  en sy pa, Lakshmi Mittal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button