Local newsNewsNews

Eugene is akteur, entrepreneur en meer

Eugene Jensen van Vanderbijlpark is 'n entrepreneur, musikant, akteur, gesinsmans en rolmodel. Vaalweekblad het nader gaan kennis maak.

VANDERBIJLPARK. – Eugene Jensen is ‘n man met hope energie en talent. Nadat hy in 2002 aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer het, het hy ligte musiek (Jazz) aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gaan studeer. In die tyd het hy in teaterstukke begin optree.

Dit was tydens sy deelname aan Calendar Boys dat hy by hul musiekdirekteur se vrou gehoor het van ‘n agentskap op soek na akteurs vir ‘n telenovelle. Hy het haar gevra of hy saam met haar na die oudisies toe kon gaan.

“Toe ek instap, sit Willie en Pieter Esterhuizen en Sally Campher agter ‘n tafel. Ek moes eers ‘n bietjie act en daarna ‘n stukkie sing. Hul gesigte het darem meer positief gelyk toe ek begin sing,” lag hy.
Eugene was verras toe hy hoor hy het die rol van Theart Brand in Hart van Staal* losgeslaan.

“Ek kon dit nie glo nie. Veral nie toe ek die eerste dag op stel kom en sien dat ek saam met van die groot name in die bedryf gaan werk nie.”

“Dit was mense soos Anrich Herbst, Richard van der Westhuizen, Lizz Meiring en Susanne Beyers. Die hele proses was ongelooflik. Ek het acting eerstehands by hierdie gesoute akteurs geleer,” onthou hy. Dit was ook toe wat hy bevriend geraak het met Robbie Wessels wat die rol van Burger Brand in die reeks vertolk. “Robbie het my gevra om saam met hom by gigs op te tree.” Eugene lag weer.

“Dit was ‘n skok op my sisteem om in pubs op te tree, maar ek glo die Here het my ook daar gebruik.”
Uiteindelik het hy 10 jaar lank vir Robbie kitaar gespeel. Hulle het ook in Engeland gaan toer waar hy die pianis, Machiel Roets, ontmoet het.

‘n Paar jaar later het Machiel vir Eugene uit die bloute genader om ‘n oudisie vir ‘n Afrikaanse musiekblyspel te doen. So het Eugene die hoofrol losgeslaan in Pretville wat in 2012 uitgereik is.

Daarna was hy ook deel van die verhoogproduksie, Liefling, met onder meer Bobby van Jaarsveld. Meer onlangs het hy die hoofrol vertolk in The Loft House*, ‘n Suid-Afrikaanse film wat die soeklig laat val op verslawing. Oor die film raak hy steeds opgewonde.

Eugene het die rol van ‘n dwelmverslaafde in die 2018 film, The Loft House vertolk. Foto: Facebook

“Dit was ‘n gemeenskapsprojek. Almal het hul tyd gratis gegee, want ons wou deur die movie mense help en ‘n boodskap van hoop bring. Die Covid-19 pandemie het sy musiekloopbaan op ys gesit, maar dit beteken nie Eugene sit stil nie.

Hy is ook ‘n besigheidsman van formaat met ‘n hele paar innoverende besighede, waaronder CoffeeLIFT en die Bread Republic onder sy bestuur.

“Ek pak alles aan in geloof,” verklaar hy beslis. Hy en sy vrou, Odette het vyf kinders. “Odette gee tuisonderrig vir ons oudste kinders Genéa (9) en Jayden (8) en dan is sy altyd daar vir Caleb (4), Ezrael (2) en baba Yovel wat in Januarie gebore is.”

Eugene is baie trots op sy gesin wat almal reeds ‘n liefde vir musiek toon. “Ons het heelwat musiekinstrumente in die huis en die kids geniet dit baie om musiek te maak. As hulle groter is, wil ek hê ons moet saam optree,” sê Eugene.

*Hart van Staal en The Loft House is op Showmax beskikbaar.

Eugene die musikant. Foto: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button