Local newsNewsNews

Hier word vaardighede speel-speel aangeleer

Daar is groot bedrywigheid by Chalkboard Champs, die leersentrum vir alle kinders met spesiale behoeftes, die jaar, en die kinders geniet elke oomblik daarvan.

VANDERBIJLPARK. – By Chalkboard Champs, die leersentrum vir alle kinders met spesiale behoeftes, kook dinge behoorlik hierdie jaar.
Nie net het die sentrum nou ‘n nuwe tuiste by Jannie de Waalstraat 3 in SW1 nie, hulle het ook nou met praktiese vaardigheidsklasse begin.
Eienaars, Mirna Myburgh en Nadya Rabe, glo dat elke leerling individuele aandag verdien wat in sy of haar spesifieke behoeftes voorsien.
Een maal per week word daar houtwerk gedoen. Hul eerste projek het behels dat hul met groot geduld en konsentrasie woorde soos “love” en “hope’’ op houtbalkies gestensil het wat met trots huis toe geneem is vir die ma’s.

Jongelinge hard aan die werk in hul houtwerkklas

“Deur hierdie houtwerkklasse poog ons om die kinders wiskunde op ‘n praktiese manier te leer, aangesien daar gemeet en gepas moet word. Die kinders geniet dit baie. Ons hoop om later, wanneer die Covid-regulasies dit toelaat, die kinders te help om hul produkte by ‘n mark te verkoop. Dit sal hul ook meer van entrepreneurskap leer,” het Mirna gesê.
Nadya het bygevoeg dat selfs die kleintjies die houtwerkklas geniet. “Dit beteken baie vir hul selfbeeld en selfvertroue as hul kan wys hulle het iets self gemaak. Dit leer hul ook om instruksies noukeurig te volg,” het sy bygevoeg.
Naas houtwerk, is daar ook met “Chalkboard MasterChef” klasse begin. Dit word weekliks aangebied en dan leer die kinders hoe om hulself in die kombuis te kan help. “Dis belangrik dat hierdie kinders soveel as moontlik vaardighede moet leer om selfstandig te kan optree. Deur ons kookklasse leer ons hulle hoe om vir hulself ‘n koppie tee te kan maak of ‘n toebroodjie te smeer, sodat hul nie altyd vir mamma hoef te wag om dit te doen nie,” het Mirna vertel.
Hier leer hulle op ‘n rustige manier hoe om veilig in die kombuis te kan werk en word daar basiese dinge geleer soos hoe om ‘n broodjie te smeer of 2-minute noodles te maak. Die kinders geniet hierdie “MasterChef” klasse baie.

Dit verg groot konsentrasie om die broodjie perfek te smeer.

Nadat hul op 11 Februarie geleer het hoe om pakkies noodles tot ‘n vinnige ete te omtower, was een van die leerlinge, Franco, se kommentaar: “This is the most delicious noodles ever!”
Natuurlik is die beste van hul kookklasse dat hul wat hul ookal maak, net daar kan eet.
Akademie word darem nie agterweë gelaat nie. Daar is onlangs ‘n spesiale rekenaarprogram aangekoop wat die kinders met wiskunde en tale help en ook reeds hier kan die vordering gesien word.
Volg gerus Chalkboard Champs op Facebook vir meer inligting. Die leersentrum benodig ook afval stukke hout vir hul projek. Skenkings sal waardeer word. Kontak hul gerus by 081 579 5749.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button