Waterpret op die destydse PUK
Die oumense het gesê, "kinders moenie in die water mors nie," maar het ons geluister? Nee!
Hierdie is nie die eerste nat Februarie in my leeftyd nie. In my amperse vyf dekades op hierdie planeet (ek het baie ander op ‘n ander planeet gehad, maar ons skrywer-aliens praat nie uit nie) het daar kort-kort so ‘n totale water-water-net-waar-jy-kyk-watermaand plaasgevind.
In die laaste dekade van die vorige eeu, of minder dramaties gestel, die 1990s, bevind ek my op die PUK.
Dit was in ons slim tweedejaarstadium. Dis Februarie. Dis JOOL-tyd. Toe begin dit reën. Aanmekaar. Ek onthou ons het so kniediep weggesak in die water op die JOOL-plaas. Natuurlik almal ‘n week later met verkoue gesit, maar dit was die moeite werd.
Daar in die destydse Wes-Transvaal op die ou PU vir CHO het ons nogal ‘n ding oor water gehad. Hier in ons derde jaar toe verklaar die slim Studenteraad (SR) ‘n waterdag. Van middernag die Donderdag vir die volgende 24 uur kon enige een ‘n ander natspat, natgooi, natspuit… ‘n Briljante plan! Wat nooit weer herhaal is nie.
Duidelik het hulle die entoesiasme van ‘n klomp studente totaal onderskat. Presies om middernag hoor ons die gille vanuit die dameskoshuise om ons. Die manne het toegeslaan, gewapen met baie water.
Ons staan paraat en gereed vir die eerste ou wat dit durf waag om sy neus in ons koshuis te steek. Maar niks gebeur nie. Is toe dat ons besef ons koshuis pa staan met sy rottang in die koshuisdeur.
Het ons soos goeie landsburgers rustig geraak en gaan slaap? Natuurlik nie! Toe begin ons maar watergevegte onder mekaar. Klasdraf die Vrydag was ‘n missie. Ek het gesorg dat ek wye draaie om die Calvynfontein loop, want menige student en dosent het onverwags in die fontein beland.
So was ek en my kamermaat klasvry die middag en aan die gereed maak vir ‘n kamp. Staan ons eers op vloer 5 se balkon met ‘n drom vol water en twee bekertjies. Probeer om die mense wat onder by die voordeur inloop raak te gooi. Maar helaas, ons het elke keer die teiken gemis. Eindelaas besef ons dis tyd om na die kampterrein te vertrek. “Kom ons keer sommer die hele drom om,” was die blink idee.
Net toe ons die drom so mooi op die rand van die balkon balanseer, kom een van ons vriendinne aangestap. Sy sien ons en waarsku ons moenie haar natgooi nie.
Ons sien haar. Ons hoor haar. Ons luister nie. Ek meen, ons staan toe nou al hoe lank daar en het nog niemand getref nie.
Ons keer die drom om en tref haar volskoot. Nie ‘n druppel mis haar nie! Goeiste, ons het soos blits gang af gedraf en met ons naweekbagasie uit die koshuis verdwyn. Sy het ons darem heelwat later wel vir haar onverwagse stort vergewe.
