AfriForum herstel sowat 150 slaggate in Parys
Ná verskeie pleidooie aan die munisipaliteit om iets aan die situasie te doen en geen optrede nie, kon daar nie langer gewag word nie.
PARYS – Die plaaslike AfriForum-tak het onlangs broodnodige herstelwerk aan die padinfrastruktuur om Parys se hoër- en laerskool gedoen.
Die burgerregteorganisasie het altesaam 280 sakke (sowat 7 ton teer) aangekoop en daarin geslaag om nagenoeg 150 slaggate in Schilbachstraat en Eerstelaan, vanaf Father Balink- tot by Grensstraat, te herstel, asook in St Janstraat voor Laerskool Parys.
Dié teer was egter nie genoeg om al die enorme slaggate in Eerstelaan op te vul nie, daarom sal die herstelwerk aan hierdie pad voortgesit word sodra daar weer teer beskikbaar is.
Botes Sand het intussen genoeg sand geskenk om twee groot slote, wat ernstige skade aan baie voertuie aangerig het, met sand te vul en vas te stamp.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dit is weens die samewerking en skenkings van Hoërskool Parys, Laerskool Parys, die ouers en onderwysers aan die onderskeie skole, Coastal Hire, Botes Sand, Woodlands, die DA en Shogun dat dit vir die tak moontlik was om hierdie projek aan te pak.
“Dit is bemoedigend om te sien hoe soveel verskillende mense en ondernemings hande gevat het om ’n verskil in ’n gebied te maak wat daagliks deur skoolkinders en hul ouers gebruik word.
“Ondervinding het nou al geleer dat inwoners nie vir die munisipaliteit moet wag om iets gedoen te kry nie en omdat skole die spilpunte van sterk gemeenskappe is, fokus AfriForum juis daarop om dié gebiede op te knap,“ sê Pretorius.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, bedank al die betrokkenes vir die opofferings wat hulle gemaak het om te verseker dat die inwoners van Parys se voertuie nou veiliger is.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou.
Kontak Burger by 082 653 4281 om ’n skenking aan AfriForum se Parys-tak te maak sodat die res van dié dorp se slaggate ook getakel kan word.

