Local newsNewsNews

Vaalweekblad se advertensie guru – Maretha

Maretha Lombard het 'n passie vir mense en haar werk en sy laat haar deur niks van stryk bring nie.

VANDERBIJLPARK. – Maretha Lombard het in 2009 by MooiVaal Media begin werk en is in 2016 as advertensiebestuurder aangestel. Sy skrik nie vir uitdagings nie. Dié dat sy voltyds werk, swot en kinders grootmaak. Te midde van ‘n kragonderbreking en eksamenstres maak sy tyd vir koffie en lekker gesels. Sy het verlede jaar 10 honneursvakke kafgedraf. Volgende in haar visier is ‘n MBA. Maretha maak baie staat op haar man, Jaco, se ondersteuning. “Ek sou nie sonder hom kon swot nie. Hy kan alles doen, van huishou tot kosmaak.” Gesinstyd is kosbaar en hulle probeer om elke aand saam met Michaela (16) en Marko (6) by die tafel aandete te geniet en Bybelstudie te doen. Maretha geniet dit om met mense te werk. “Ek aanvaar almal soos hul is en oordeel niemand nie. Jy weet, almal het mos maar hul swak- en sterkpunte,” beduie sy. Vir haar span advertensieverteenwoordigers het sy net die grootste lof. “Ek het regtig ‘n oulike span. Ja, van ons is teenpole, maar ek respekteer verskille. Ek het geleer daar is altyd ‘n ander kant en ek is nie altyd reg nie.” Haar werk pas haar soos ‘n handskoen. “My ma was op haar dag ‘n musiekonderwyseres en my pa was ‘n joernalis en later redakteur. Ek sukkel nou nog om te skryf, maar verkope…” Sy lag lekker en som dit dan op met, “my ma het altyd gesê ek kan ys aan ‘n eskimo verkoop.” Dan raak sy ernstig. “Verkope kom dalk vir my maklik, maar ek sal nooit iets aan iemand verkoop waaraan ek nie self glo nie. Dit is net nie ek nie,” verklaar sy beslis. Maretha doen niks half nie. “Ek glo as jy werk, werk jy hard en as jy kan ontspan dan doen jy dit behoorlik.” Sy geniet haar werk en sal baie keer tot laataand nog doenig wees. “Ek is mos eintlik ‘n naguil. Vroeg opstaan werk nie vir my nie. Jy kan mos sien hoe groot is die koffiebeker,” lag sy. Vriende en familie is vir haar belangrik en sy geniet dit om tyd saam met hulle deur te bring. ‘n Ander voorliefde is musiek, maar sy kry nie meer so baie tyd daarvoor nie. Sy het destyds haar graad 7 klaviereksamens geslaag, maar verkies om op gehoor te speel. “Ek kan ook dwarsfluit speel en jare terug kon ek selfs tjello speel,” onthou sy met ‘n glimlag. Verlede jaar was lank, daar was baie uitdagings en sy erken dat die grendeltydperk haar emosioneel uitgeput het, maar Maretha bly positief en verklaar filosofies: “Ek groei steeds in my werk en glo daar is altyd iets om te leer. ‘n Mens kan hoe voorbereid wees, maar die lewe gooi mos maar altyd ‘n curve ball. Gee jy maar net jou beste.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button