Betsy verstaan die kuns van koek bak en versier
Betsy Bentley mag maar koeke bak en versier. Vaalweekblad het gaan kennis maak.
VANDERBIJLPARK. – Betsy Bentley lag lekker as jy haar uitvra oor haar gunstelingtydverdryf. Sy bak en versier koeke in die aande en oor naweke.
“My ma het troukoeke gebak. Ek onthou hoe ek altyd gehelp het om daardie klein silwer balletjies met ‘n tweezer op die koeke te sit. Dan het my ma altyd gesê: ‘Eendag gaan jy ook so koek bak,’ maar ek wou niks weet nie,” onthou sy.
Dis die dat sy so lekker lag as jy haar uitvra oor die koekbakkery. “Ek het net die een dogter en met haar 10de verjaardag wou sy ‘n pop-koek hê. My ma was toe al oorlede en ek het dit self probeer. Aarde, dit was ‘n gemors. Ek het dit by die deur uitgegooi en die honde het dit geëet, terwyl ek staan en huil het. Maar, toe probeer ek maar weer, en net daar het my passie en liefde vir koek bak begin.”
Dit was 14 jaar gelede. Mettertyd het ‘n kollega haar gevra vir ‘n gewone sjokoladekoek met die woorde “Veels geluk” daarop en kort voor lank het nog een gevra vir ‘n “aannemings-koek” kompleet met das en Bybel.

“Ek het myself geleer,” vertel sy. Vandag kan sy koeke pragtig versier met die tradisionele botterversiersel asook met fondant.
Sy het ook al troukoeke gebak, onder meer een vir haar dogter, wat ware kunswerke was. Om die koeke te bak gebruik sy meestal nog haar ma se panne. “Die ou panne is maar net die beste,” verklaar sy.
Sy kan enige koek bak, van ‘n lemoenkoek tot ‘n rooi fluweelkoek (red velvet), maar sy sê sjokoladekoek bly maar ‘n gunsteling onder haar kliënte.
Betsy wonder wat haar ma sou sê as sy sien hoe woeker sy elke aand in die kombuis. “My eie dogter wil natuurlik niks van koekbak af weet nie. Sy verstaan nie hoe ek al my vrye tyd daaraan kan afstaan nie. Maar, dis vir my ‘n groot plesier om te doen. Ek hou daarvan. Dis asof die hele bak en versier proses my kalmeer,” verduidelik sy. “Dalk byt die bakgogga nog my dogter ook eendag, soos wat met my gebeur het.”
Elke koek word met liefde hanteer en elkeen word eers afgeneem en bewonder voordat dit verpak word.
Gaan loer gerus op haar Facebookblad, Betsy’s Cakes, die een waarby staan “heerlike koeke en terte” om meer van haar kunswerke en lekkernye te sien.

