Nuwe adjunk vir Laerskool Emfulenipark
Ontmoet Laerskool Emfulenipark se nuwe adjunkhoof.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Suzie Sutherland het op 1 Februarie die leisels as adjunkhoof van Laerskool Emfulenipark oorgeneem. Sy is al vir die afgelope 13 jaar betrokke by die skool as departementshoof, wiskunde onderwyseres en hokkieafrigter.
“Ek gee steeds wiskunde vir die graad 7’s, want ek wil graag in kontak bly met die kinders,” het sy in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Dit is duidelik dat sy ‘n passie vir onderwys het en trots is op Laerskool Emfulenipark. “Ons maak seker die kinders weet hulle is elkeen uniek en spesiaal. Hulle moet weet die skool is ‘n plek van veiligheid,” het sy gesê.
Die skool handhaaf ‘n hoë akademiese standaard en het dit verlede jaar met al die pandemie beperkings reggekry om deur die voorgeskrewe kurrikulum te werk.

Suzie is in Sasolburg gebore en het haar skoolloopbaan by die Laerskool D.F. Malherbe begin. Op ‘n stadium het haar gesin Pinetown toe verhuis, maar in haar Gr.11-jaar het haar ouers hul in Vanderbijlpark kom vestig. Sy het Gr.11 en 12 aan die Hoërskool Driehoek voltooi.
Na skool het sy onderwys aan die destydse Potchefstroom Onderwys Kollege (POK) studeer. Suzie se eerste onderwyspos was by Arcon Park Primary School waar sy 11 jaar onderwyseres en departementshoof was. Haar gesin is haar grootse ondersteuners. Sy is reeds 21 jaar met Jacques getroud en hulle is geseënd met twee dogters. Sune is ‘n tweedejaarstudent in Regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom en Lana ‘n Gr.11-leerling aan die Hoërskool Transvalia.
