Local newsNewsNews

Jamblikke, visblikke, drie by drie was nog mode

Atletiekbyeenkomste in die 80s... Kyk dit was opwindend!

Verlede jaar beland ek by ‘n laerskole atletiekbyeenkoms. Maar dis toe nie meer soos ek dit onthou nie.
Niemand sing meer jamblikke, visblikke, drie by drie nie, ook nie sewe borde mieliepap is skaars genoeg vir ons nie en ek het nie eenkeer, ons het gees ja man ja gehoor nie.
Daar was nie dirigente of ‘n wenskool nie. Eish! Ek was so opgewonde, want ek het my oud-laerskool se naam kort-kort gehoor. Ek dog ek gaan uiteindelik sien hoe wen ‘ons’ die beker, maar toe is daar nie ‘n beker nie.
Ek wag al sedert 1978 vir die oomblik. Daardie jare het ons darem die odd blitse gehad. Ek onthou my ou skoolmaat, Michael het in graad 1 al in Vaalweekblad verskyn omdat hy so vinnig kon hol. Die beker was ons egter nooit beskore nie. En nou is die interlaer selfs sy jamblikke en visblikke kwyt.
As ek nou baie ver terugdink het ons sportliedjies nooit eintlik sin gemaak nie. Ek dink dit was seker belangriker dat dit lekker gesing het. Op hoërskool het ons ‘n kreet gehad, wat ek nie hier kan herhaal nie, want hoe op dees aarde spel mens arrararadiou?
Ons entoesiasme was groot. Ek onthou hier in std. 6 (graad 8 vir die jongelinge) het ons ‘n baie entoesiastiese dirigent gehad.
Dirigente was gewoonlik matrikulante in anderste klere wat voor die pawiljoen op en af gespring het in ‘n poging om die res van ons aan die gang te hou. In alle geval, een van daardie jaar se dirigente was so lang, maer kêrel wat hom goed in die besigheid ingeleef het. Dit was so met ‘n terugtrap-slag wat hy te ver agteroor geleun het en kaplaks binne in ‘n vullisdrom gaan sit het.
Hy het darem, so ver my kennis strek, nie seergekry nie, maar het hy ons lekker laat lag.
Miskien eendag as Covid-19 sy ry gekry het, is almal dalk weer lus om te sing. Dan kan die kinders van die 80s die kinders van die 21ste eeu leer van: Jamblikke, visblikke, drie by drie. Ons is. Ons is. Weet julle wie? Ons is. Ons is. Kan julle raai. Ons is …!
Of dalk kan hulle ons ‘n nuwe lied of drie leer. Twee dinge het ten minste dieselfde by die laerskole atletiek gebly. Die kinders moedig nog net so hard hul skoolmaats aan en die juffrouens is steeds baie kwaai met enige jongeling wat sonder toestemming die pawiljoen wil verlaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button