Local newsNewsNews

Plaaslike kunstenaar stel eerste enkelsnit vry

Harry Broersma van Vanderbijlpark het so pas sy eerste enkelsnit, Liefde Soos Dit, vrygestel.

VANDERBIJLPARK. – Harry Broersma se eerste enkelsnit, Liefde Soos Dit, is op 13 Februarie vanjaar vrygestel. Nog voordat dit behoorlik in Suid-Afrika kon posvat, is dit reeds op ‘n radiostasie in Nederland gespeel.
Dit is opgevolg met ‘n telefoniese onderhoud met Robért Cooijmans op Omroep Land van Cuijk radio in Nederland.
Harry lag lekker as mens hom uitvra oor hoe sy enkelsnit so ver van die huis af gehoor kan word. “Ek weet nie eintlik hoe hulle van my te hore gekom het nie, maar ek het familie in Nederland en ek het die skakel na die lied op my facebook. So, ek vermoed ek kan hulle bedank”.
Hy studeer aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Dit is ‘n veeleisende kursus, maar die vierdejaar-student sê alhoewel dit baie harde werk verg om alles te balanseer, kry hy dit reg om aan sy musiekloopbaan ook te werk. Hy dink daaraan om later medies te gaan studeer en sy musiekloopbaan verder te vat.
“Ek was nie altyd so lief vir musiek nie. My broer was die een wat goed kitaar kon speel en selfs lesse geneem het. Ek was meer die sportman,” vertel Harry wat aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer het.
Hy was 17 jaar oud toe hy vir die eerste keer ‘n kitaar opgetel het. “Ek het net daar besluit ek wil ook leer speel.” Sy broer het hom gehelp en hy het YouTube ingespan om te leer hoe om die instrument onder sy vingers te laat praat.

Harry Broersma sê sy musiek is terapie vir sy siel.

Aan die begin het hy ander kunstenaars se liedjies gesing, maar sê dit het hom verveel. Dis toe dat hy sy eie begin skryf het. “My eerste liedjies was glad nie goed nie,” lag hy lekker, maar hy het aanhou probeer. In sy eerste jaar het hy een van sy liedjies op Instagram gedeel en goeie terugvoer gekry. Daarna het hy ook video’s op YouTube en Facebook begin deel en in kroeë begin sing.
In 2020 het hy aan ‘n musiekkompetisie van Mergemusic Productions in Drie Riviere deelgeneem en gewen. Dis dan ook hulle wat Liefde Soos Dit vir hom opgeneem het as een van sy pryse.
Harry hoop om voor die einde van die jaar sy eerste album uit te reik. Sy musiek word sterk beïnvloed deur die musiekgroep, Spoegwolf en hy beskou die groep se sanger, Danie du Toit, as sy rolmodel. “Ek het eenkeer na ‘n show vir Danie gevra om my kitaar te teken, toe gee hy my sy kitaarkas, want hy het gesê so ‘n mooi kitaar kort ‘n ordentlike kas,” onthou Harry.
Gaan soek Harry Broersma op YouTube om na Liefde Soos Dit te luister en volg hom gerus ook op facebook. Van hierdie jong ster gaan daar nog baie gehoor word

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button