Die Vaal se eie bobaas koffieroosters
Die duo wat topgehalte koffie in die Vaal rooster.
VANDERBIJLPARK. – Werner Gous en Christoff Muller het nog altyd van ‘n lekker beker koffie gehou. Nooit het die twee ingenieurs egter gedink dat hul ooit ‘n bestaan uit die boeretroos sou maak nie.
Dit het alles in 2019 begin toe Werner by ‘n vriend geleer het hoe om koffie te rooster. Sy belangstelling het gegroei en toe sy vriend stad toe trek, het Werner en Christoff die koffieroostermasjien oorgeneem.
Die twee kêrels het aan die begin van 2020 uit hul onderskeie poste bedank en hul maatskappy, Favour & Grace coffeecompany gestig.
Teen April 2020 het hul koffiemaatskappy volstoom begin werk ten spyte van die Covid-19 pandemie.
Werner sê hulle gebruik verskeie invoerders in die land om groen koffiebone by te koop. Die groen bone word dan gerooster volgens ‘n sekere profiel. Dieselfde boon kan uiteindelik verskillend proe, afhangend hoe dit gerooster is.
Favour & Grace se koffie word as spesialis koffie beskou. Koffie word gegradeer volgens smaak en kry ‘n telling uit 100. Spesialis koffie sal ‘n telling van 85+ hê en word as ‘n hoër gehalte, nis koffie beskou.

Alhoewel hul maatskappy slegs in 2020 begin is, het die twee besluit om in te skryf vir die jaarlikse A Shot in the Dark 2020-kompetisie. Die kompetisie word landwyd aangebied vir Suid-Afrikaanse koffieroosters. Favour & Grace het deurgedring na die tweede rondte van die kompetisie en het uiteindelik ‘n goeie vierde plek met hul eerste probeerslag behaal.
Werner sê alhoewel hy nog altyd lief was vir koffie, het sy aanvanklike passie net meer geword en is hy nou baie bly en tuis om voltyds in die koffiebedryf te wees
“Daar het ‘n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Deur die koffiebedryf het ek toegang tot 70 lande wat koffie produseer.”
Die duo glo ook dat daar meer in koffie steek as om net die dors te les. Hul maatskappy het ‘n visie om koffie te gebruik om die kultuur in besighede te verander. “Ons help besighede om onder andere deur ‘n koffiestasie, die atmosfeer en kultuur in die besigheid positief te beïnvloed. “Mense kuier oor koffie,” beduie Werner. As jy mense so ver kan kry om saam koffie te geniet, dan kan jy hul kry om beter saam te werk ook.
Vir meer inligting oor hul koffie en hul kultuurveranderende visie, gaan besoek gerus hul webtuiste by https://fgcoffee.co.za/.
