
Van die vroegste tye af het stories al begin om die mensdom se denke te vorm en ons geestesoog vir die wêreld om ons te open.
Die oordra van stories is al so oud soos die mensdom self. Dit help ons sin maak van die wêreld om ons en stel ons in staat om die stukkies en brokkies van ons bestaan soos ‘n legkaart inmekaar te laat pas. Die insig wat ons sodoende kry, kan dan weer aan ‘n volgende geslag oorgedra word. Sedert die begin van die mensdom het primitiewe mense in verskillende dele van die wêreld al stories vertel met behulp van rotstekeninge. Na duisende jare is van dié tekeninge steeds op plekke te sien en gryp dit ons tot vandag toe steeds aan.
Deur die geskiedenis heen is storievertellers in kulture regoor die wêreld vereer. In die Middeleeue het reisende storievertellers, bekend as troebadoere, van die eenvoudigste werkers tot koninklikes vermaak met hul boeiende verhale wat hulle versamel het in die verre lande waardeur hulle gereis het. Internasionale Storieverteldag is verlede Maandag, 20 Maart, wêreldwyd gevier. Dié amptelike dag, wat sy ontstaan in 1991 in Swede gehad het, word elke jaar rondom die Maart-ewening gevier en het intussen na lande op al ses kontinente uitgebrei. ‘n Tema word elke jaar gekies en vanjaar was dit “New beginnings”.
Vandag word stories nie net mondeling in vertellings of liedjies oorgedra nie maar ook op televisie, radio, boeke, koerante – en natuurlik op sosiale media. Een van die suksesvolste maniere om stories en lewenslesse oor te dra, is steeds deur middel van lees.
“Almal wat al op ‘n koue wintersdag met ‘n lekker boek in die bed opgekrul het en dit nie kon neersit totdat jy op die laaste bladsy was nie, verstaan die betowerende effek wat lees en ‘n goeie storie op ‘n mens kan hê,” sê Melinda Davids van die Tina Cowley Leessentrum in Vanderbijlpark.
Sy sê een van die grootste geskenke wat ouers hul kinders kan gee, is om hulle te help om goed te leer lees. Boeke en stories is sleutels tot kennis en opvoeding. Dit speel ‘n groot rol in ‘n kind se vermoë om makliker te studeer en kennis in te neem. As mense het ons ‘n behoefte om verduidelikings en patrone te soek. Boeke en stories help ons om die wêreld om ons beter te verstaan.
Dit is noodsaaklik vir ons eie kulturele identiteit en die bewaring daarvan, terwyl dit ons terselfdertyd in staat stel om ander kulture te leer ken en beter te verstaan,” sê Melinda. Buiten dat lees en storievertelling kinders se kennis en woordeskat uitbrei, ontwikkel dit ook hul verbeeldingswêreld en verminder dit spanning omdat die leser vir ‘n rukkie uit die realiteit met al sy eise kan wegbreek.
‘n Kind wat goed kan lees, het meer selfvertroue as dié wat sukkel, en boonop ontwikkel hulle empatie omdat hulle deur verhale die vermoë ontwikkel om hulself in iemand anders se skoene te kan plaas. As jy vermoed dat jou kind ‘n leesprobleem het, of jy jou kind net wil toerus met nóg beter leesvaardighede, gesels gerus met Melinda by 074 175 0176.
FOTO: Melinda Davids van Tina Cowley Leessentrum in Vanderbijlpark.
**
**************************************************************************************************************************

