Agt goue medaljes vir Valies by SA’s
Veels geluk aan elkeen wat aan die onlangse ASA SA Atletiek Kampioenskappe in die Paarl deelgeneem het. Die Valies het hul uitstekend van hul taak gekwyt.
Die Twizza ASA SA Atletiek Kampioenskappe vir o.16 – o.20s is van 7 tot 10 April by die Dal Josephat-stadion in die Paarl gehou. Atletiek Vaaldriehoek se span het sesde uit 17 spanne geëindig met agt goue-, twee silwer- en twee bronsmedaljes.
Oud-Valie, Phetisang Makhete het ook die gebied se naam hoog gehou toe sy die SA rekord met ‘n eerste plek in die vroue o.20 hamergooi verbeter het. Haar afstand was 57.35m.
Ethan Olivier het bewys waarom hy tans nommer een op die wêreldranglys vir driesprong o.18 is. Hy het met ‘n sprong van 15.03m goud behaal. Edric Wenhold het sy derde posisie op wêreldatletiek se buitelug-ranglys onderstreep toe hy die o.20 hoogspring vir mans met ‘n hoogte van 2.05m gewen het.

Vereeniging Gimnasium is baie trots op Jason Bowers wat twee goud opgeraap het deur die 1 500m en 3 000m vir mans o.20 te wen. Marli Dimond het die 800m vir dogters o.16 in ‘n tyd van 2:13:02 gewen en Ansumé de Beer het ‘n eerste plek in die paalspring vir dogters o.16 met ‘n hoogte van 3.2m behaal.

Renier de Villiers het ook goud verwerf in die 800m vir mans o.20 met ‘n tyd van 1:48:66. Renier se Vaaldriehoek spanmaat, Henre van Schalkwyk het ‘n vyfde plek in dieselde item behaal.
Julienne Strydom het goud in die verspring vir vroue o.18 met ‘n afstand van 5.79m verower. Sy het ook brons in die driesprong vir vroue o.18 losgespring met haar sprong van 11.43m.
Die Vaaldriehoek se twee silwer medaljes is deur Shikira Gebhardt in die driesprong vir vroue o.20 en Lukas Nel in die seuns o.16 hamergooi verower.

Willem Coertzen het ‘n bronsmedalje in die gewigstoot vir mans o.20 met ‘n afstand van 17.13m verdien. Tenike Blunden het 4de geëindig in die dogters o.18 2000m hindernis en het vir die Senior SA ASA Kampioenskappe gekwalifiseer.
Aiden Jacobs het op sy beurt ‘n vierde plek in die finaal van die 300m hekkies vir seuns o.16 in 39.26s losgehardloop. Dit was sy persoonlike beste tyd vir die seisoen. Marco Pretorius het ‘n vierde plek in die diskus vir seuns o.18 behaal. Vir nog ‘n berig en nuus oor die atletiek, kliek gerus hier
