CommunityNews

Vaal se begraafplase haglik – net Midvaal beïndruk

Hoëveldse gras en bosse staan in meeste plaaslike begraafplase plek-plek meer as ‘n meter hoog. Dit is die ideale skuilplek vir gure karakters wat besoekers oorval en beroof.

Inwoners van die Vaaldriehoek het die afgelope weke woede en hartseer op sosiale media uitgespreek oor die haglike toestand van meeste begraafplase in Emfuleni en Sasolburg.
Hoëveldse gras en bosse staan in meeste plaaslike begraafplase plek-plek meer as ‘n meter hoog. Dit is die ideale skuilplek vir gure karakters wat besoekers oorval en beroof.
“In die Jacobskop-begraafplaas is die gras al amper so hoog soos my kleindogter. Mens is nou te bang om na jou geliefdes se grafte toe te gaan,” sê Margaret Brand.
Elmarie Botha sê haar ouers is in die Sasolburg-begraafplaas begrawe. “Dit lyk oral so sleg. Ons het maar self iemand wat elke week vir ons skoonmaak,” sê sy. Vaalweekblad het in die verlede al foto’s geplaas van beeste wat onbeheerd tussen en oor die grafte loop en wei.
Alida Foster sê haar ouers en broer is in Vereeniging begrawe, maar hul familie waag dit nie meer om die grafte te besoek nie. “Dis so hartseer want omdat dit nou so gevaarlik is, was ons seker drie jaar laas by hulle grafte,” sê sy.
Erika Marais Pretorius sê haar pa is in 1991 oorlede en die familie het elke Sondag na kerk vars blomme op sy graf gaan neersit.

“Ook op verjaarsdae, Vadersdag, Kersfees en ander herdenkings was ons daar met ons vars blomme, ‘n emmertjie en lappie om skoon te maak. Daar was altyd ‘n oorvloed mense wat kom hallo sê het aan hul geliefdes. In 2009 is ek en my ma in die Jacobskop-begraafplaas oorrompel. Die rowers het ‘n vuurwapen teen my ma se kop gehou en ons juweliersware gevat, sowel as my ma se handsak en my selfoon. Hulle het daarna rustig in die lang gras ingestap – nie eers weggehardloop nie. Ons het ‘n saak by die polisie gaan maar daar het niks van gekom nie,” sê Erika.

Terwyl Emfuleni se inwoners kla, is Meyerton se mense heeltemal tevrede met die toestand van hul begraafplaas. Midvaal-raadslid Peter Teixeira het op 9 April ‘n inspeksie by die begraafplase in Midvaal gedoen en terugvoer gegee dat hy baie tevrede is met die netheid daarvan.

‘n Vaalweebladleser, Fanie Roos, sê die toestand van die Vanderbijlpark-begraafplaas is skokkend. Hy bedank AfriForum vir hul diens om een keer per maand beveiliging te verskaf aan mense wat die begraafplaas wil besoek, maar sê die lang gras kort dringend aandag.
“Gelukkig is die reënseisoen amper klaar. Ek glo as ons die begraafplaas nou voor die winter een keer ordentlik kan skoon kry, behoort ons eers weer teen Oktober mooi skoon hoef te maak voor die volgende seisoen. Ek glo as die gemeenskap met AfriForum en ander organisasies hande vat, kan dit gedoen word,” sê hy.

Mev. Kobie Ströh, ‘n bekende lid van die Facebook-groep “Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid-Afrika”, sê begraafplase is landwyd ‘n groot hartseer en kommer. “Dit is duidelik ‘n geval van swak bestuur en ‘n traak-my-nie-houding. Wat kan ons as inwoners van dorpe doen? Self-skoonmaakpogings werk, maar gewillige hande is min,” sê sy.

Kobie en ander lesers se meegaande foto’ s wys die verskil tussen Vereeniging, Vanderbijlpark en Midvaal se begraafplase.
In ‘n vinnige steekproef wat op Facebook gedoen is, blyk dit dat Vaaldriehoekse inwoners deesdae verkies om na hul dood eerder veras as begrawe te word.
* AFRIFORUM se Vanderbijlparktak bied more (Sondag 18 April vanaf 11H00 tot 14H00) weer hul maandelikse begraafplaas-sekuriteitsdiens aan vir mense wat graag hul geliefdes se grafte wil besoek. 

********************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button