Inwoners van Redan betoog Saterdag oor “onregte” wat deur nuwe bestuur gepleeg is
Die Burgerregte Organisasie Patriot vir Minderhede sê hy hou op Saterdag 15 Mei ’n optog in Redan oor die “onreg wat aan die armes van Redan gedoen is”.
VEREENIGING. – Volgens die ondervoorsitter van die burgerregte organisasie, Susan Naude, gaan dit oor Eskom wat laat in 2020 die bestuur van Redan aan Builders One Stop onder die direkteursap van Barnabas Dube oorhandig het.
Volgens Naude het “die man verwoesting gesaai in ’n eens vreedsame, rustige Redan”.
“Hy het mense 24 uur kennis gegee om te trek, die huur met 100% opgesit en die mense gedreig,” vertel Naude.
Die organisasie is ook van plan om tydens die optog ‘n petisie te oorhandig.
‘n Vereniging genaamd die Sustainable Tenants Association of Redan het intussen ‘n verklaring uitgereik waarin hulle vir mnr. Barnabas Dube in die bres tree. Hull lig in die verklaring ook positewe verskille wat Dube reeds gemaak het uit.
Volgens die vereniging was daar tot en met Dube se maatskappy DBVest oorgeneem het vrye toegang vir enige Jan Rap en sy maat wat Redan wil binnegaan. Die vereniging sê inwoners is veiliger nadat daar vanaf 1 April toegangsbeheer in plek is.
Volgens die Sustainable Tenants Association of Redan is lang gras ook gesny en paaie in stand gehou, iets wat nie voorheen gedoen is nie.
Volgens die Vereniging geniet weduwees wat in Redan bly ook verlaagte huurgeld danksy Dube.
