Sport

Hoekie skitter met silwer by Olimpiese Jeugspele

Wys hy kan op Internasionale vlak druk hanteer en presteer.

VANDERBIJLPARK – Die Hoërskool Driehoek se JP Theron het Sondag 8 November die Vaaldriehoek se naam op die wêreldverhoog laat weerklink toe hy ‘n silwermedalje in die hamergooi by die Olimpiese Jeugspele in Dakar in Senegal, verower het.

Die 17-jarige veldatleet het met ‘n gooi van 71,79 m silwer in die eindstryd op die Iba Mar Diop-stadion verwerf.

Slegs 1,48 m het tussen Theron en ”n goue medalje gestaan. Patry Ivan Valdez Arroyo van Ecuador het met 73,27 m koning gekraai, terwyl Mohamed Ismail van Egipte met 69,72 m die bronsmedalje ingepalm het.

Theron het reeds met sy tweede poging sy beste afstand van 71,79 m aangeteken. Sy ander geldige gooie was 67,72 m, 70,54 m, 71,07 m en 66,80 m. Sy vierde poging was ongeldig.

Volgens Team SA was dit Suid-Afrika se sesde medalje by vanjaar se Spele.

Ná afloop van die kompetisie kon Theron skaars sy vreugde beteuel.

“Ek is ongelooflik gelukkig met my silwermedalje. Die Here het dit vandag vir my beplan en ek is baie trots op my prestasie,” het hy volgens Team SA gesê.

“Dit is ‘n eer om hierdie medalje om my nek te dra met my land se vlag oor my skouers. Dit is ‘n droom wat waar geword het.”

Theron het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat by Team SA betrokke is.

Hy het erken dat die druk op internasionale vlak heelwat groter was as waaraan hy gewoond is.

“Dit was my eerste keer wat ek aan ‘n internasionale byeenkoms deelgeneem het. Die druk was baie groter as enigiets wat ek voorheen ervaar het. Ek het dit goed hanteer en dit is ‘n goeie teken van wat ek in die toekoms kan bereik,” het hy gesê.

Die jong hamergooier het vroeër vanjaar reeds sy staal gewys toe hy ‘n persoonlike beste van 73,76 m in die o.18-hamergooi aangeteken het.

Theron is een van twee jong veldatlete uit die Vaaldriehoek wat Suid-Afrika by die Spele verteenwoordig.

Die ander is Darius Botha van die Hoërskool Dr. Malan, wat vanmiddag 9 November in die gewigstoot aantree.

Botha het vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole se o.17-gewigstoot gewen en ‘n persoonlike beste van 19,71 m aangeteken. Hy het ook twee goue medaljes in gewigstoot en diskus by die COSSASA-spele in Bulawayo, Zimbabwe, verower.

Die vierde Olimpiese Jeugspele het op 31 Oktober begin en duur tot 13 November. Dit is die eerste keer dat ‘n Olimpiese sportgeleentheid op die vasteland van Afrika aangebied word.

Suid-Afrika word deur 46 atlete in 15 sportsoorte verteenwoordig, waarvan tien aan atletiek deelneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button