Verdagte met hondegif en inbreekgereedskap vasgetrek
'n Verdagte is die naweek deur lede van die privaatsekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense vasgetrek nadat hy na bewering 'n private eiendom betree het. Inbreekgereedskap en vermoedelik giftige kos is in sy besit gevind.
VEREENIGING – Lede van die veiligheidsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense het die naweek ‘n verdagte in Drie Riviere aangekeer wat vermoedelik van plan was om honde te vergiftig en by ‘n eiendom in te breek.
Lede van Sekuriteit Sonder Grense se hoërisiko-eenheid (HRU) en gewapende reaksiespan het gereageer nadat ongemagtigde persone glo ‘n private eiendom betree het.
Die maatskappy se hommeltuig-eenheid is ook ontplooi om die bewegings van die vermeende oortreders vanuit die lug dop te hou.
Danksy samewerking tussen die grondspanne en hommeltuig-operateurs kon een verdagte opgespoor en aangekeer word.
Volgens Sekuriteit Sonder Grense het veiligheidsbeamptes inbreekgereedskap en ’n mengsel van polonie en ’n stof wat vermoedelik aldikarb, algemeen bekend as Two-Step, is, gevind.
Aldikarb is ‘n uiters giftige plaagdoder wat dikwels deur misdadigers gebruik word om honde te vergiftig voordat hulle by huise inbreek.
Die gif kan binne minute ernstige vergiftiging veroorsaak en is ook lewensgevaarlik vir mense.
Volgens Sekuriteit Sonder Grense het die optrede nie net ‘n moontlike inbraak verhoed nie, maar ook ‘n ernstige bedreiging vir huisdiere in die omgewing afgeweer.
Die maatskappy het sy hoërisiko-eenheid, gewapende reaksiespan en hommeltuig-operateurs vir hul vinnige optrede bedank.
Inwoners word aangemoedig om verdagte bedrywighede, onbekende persone wat naby grensheinings rondhang en vreemde voorwerpe of kos wat in erwe gegooi word, onmiddellik aan te meld.
