Projek Two-minute-noodles is op dreef
Gert en Marinda is op 'n missie om two minute noodles in te samel. Baie two minute noodles, want kinders moet kos kry.
VAALPARK – Gert Janse van Rensburg en Marinda Pretorius is bekend vir hul Vaalpark Square Dag 4-video’s, maar dié duo is nou op ‘n missie om pakkies twee-minuut noedels in te samel.
Op 19 Oktober het hul op Facebook ʼn video gedeel en gesê, vir elke vier keer wat die video gedeel word, sal hul vier pakkies noedels skenk. Terselfdertyd het hul mense aangemoedig om ook te skenk.
Oorspronklik was die doelwit om ʼn 1000 pakkies in te samel. Dié totaal het hul vinnig bereik en kort voor lank het Gert besluit hulle mik vir 10 000 pakkies. Dis drie weke later en Gert sê hulle het al 6 000 pakkies ingesamel.
“Ons wil so vinnig as moontlik nog 4 000 insamel. Die persoon vir wie ons dit doen, sê elke pakkie voed een kind en dit sal wyd versprei word. Ons glo dat as mense vir jou goed is, moet jy goed wees vir ander. Die pay it forward beginsel. Dis hoekom ons dit doen,” sê Gert.
Individue of besighede wat pakkies noedels wil skenk, maak nie saak of dit een pakkie of 600 pakkies is nie, kan die pakkies by Vaalpark Square op die hoek van Prinsberg en Oppermanstraat in Vaalpark aflewer.
