NationalNews

Vaalrivier se water groen weens oormaat ‘voedingstowwe’

Goeie nuus is dat dit na gewone alge lyk en nie die “blou-groen” (cyanobacteria) tipe wat skadelik vir die lewer van diere is as hulle baie water op een slag drink nie

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van eiendomme aan die oewer van die Vaalrivier rapporteer dat die water die afgelope weke besonder groen is. Dit is veral in die omgewing van Stokkiesdraai en Marlbank waar die water veel groener as normaalweg is.

Volgens ‘n watergehaltespesialis wat anoniem ‘n mening hieroor aan Vaalweekblad gegee het, word die groen kleur veroorsaak deur ‘n toename in alge. Dit is ‘n tipiese gevolg van verhoogde voedingstowwe in die rivier.

“Die aanhoudende rioolstortings verhoog die fosfate en nitrate in die water. Met ‘n bietjie lekker sonskyn groei die alge dat dit bars. Die wind waai ook dikwels die alge in inhamme in, waar dit konsentreer en dit erger laat lyk,” sê hy.

Goeie nuus is dat dit na gewone alge lyk en nie na die “blou-groen” (cyanobacteria) tipe wat skadelik vir die lewer van diere is as hulle baie water op een slag drink nie.

“Die alge absorbeer baie van die oormaat voedingstowwe in die water maar die digte bedekking beperk ongelukkig ook sonlig om die water te infiltreer, wat die waterlewe beïnvloed,” sê die kundige. Hy verduidelik dat die suurstofvlakke dan in die nag verlaag (respirasie), maar in die dag verhoog (fotosintese). Dit is nie noodwendig negatief nie, maar die gereelde wisseling plaas stress op visse en ander waterlewe.

Vaalweekblad het in die verlede al dikwels oor sporadiese visvrektes in die Vaalrivier berig, maar geen ongewone voorvalle van dié aard is in die afgelope weke deur oewerbewoners of hengelaars gerapporteer nie.

As jy bewus is van visvrektes in jou omgewing, stuur asseblief ‘n boodskap na Vaalweekblada by 083 246 0523.

 

Dié foto van die groen Vaalrivier is onlangs by Marlbank, sowat 12 km buite Vanderbijlpark, geneem. Foto: Peter Hauptfleisch.

************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button