Redan se nuwe eienaar wil hof toe met minderregtegroep ná brief oor huurgeld
Die nuwe eienaar van Redan gaan kriminele klagte van kaping, diefstal en bedrog teen die direkteure van die burgerregtegroep Patriot vir Minderhede - Wessel Basson, Marius Coertze en Elsabe Juyn - aanhangig maak.
VEREENIGING. – Barnabas Dube, ‘n direkteur van die maatskappy DBVest Properties (Edms.) Bpk., het glo reeds regsadvies ingewin en is op pad polisiestasie toe om die klagtes aanhangig te maak.

Volgens Dube volg dit nadat Wessel Basson, direkteur van die burgerregtegroep, ‘n brief aan inwoners geskryf het waarin hy vra dat “mede stryders”, “betalende ondersteuners” en huurders van die Redan Gemeenskap hul maandelikse huur betaalbaar DBVest Properties (Pty) Ltd, direk aan die burgerregtegroep se “noodfonds” by FNB betaal, en nie aan die verhuurder nie.


Dube meen dit kom neer op kaping en ‘n huurboycott wat krimineel en onwettig is.
Dube het ‘n beroep op inwoners, sowel as lede van die burgerregtegroep en die Vryheidsfront Plus gevra om regshulp in te win oor die gevolge van Basson se instruksies en gewaarsku dat dit krimineel en onwettig is.

Die burgerregtegroep het onlangs ’n optog in Redan gehou teen “onregte” wat glo teen inwoners gepleeg word en huurgeld wat dramaties opgestoot is sedert Dube in Januariemaand eienaarskap van die oord by Eskom oorgeneem het.

Die burgerregtegroep het ook gevra dat Eskom die transaksie ondersoek waarmee eienaarskap aan Dube oorgedra is.
OPDATERING: Basson het aan Vaalweekblad verduidelik dat die brief uitsluitlik aan lede van die burgerregtegroep gestuur is en volg nadat Dube nagelaat het om herstelwerk by lede van die burgerregtegroep se huise te doen.
In ‘n skrywe wat op 15 Mei aan Dube gerig is word daar gedreig dat indien DBVest nie binne 48 uur aandag aanprobleme gee nie, die burgerregtegroep sy ondersteuners gaan aanmoedig om hul huurgeld te weerhou.
