24 dae in die Covid-eenheid: Man vertel oor se maandlange Covid-hel
‘n Plaaslike tegnikus wat onlangs ontslaan is nadat hy 24 dae in Midvaal Privaat Hospitaal se Covid-saal vir ernstige Covid-19 behandel is, sê die siekte is ‘n realiteit. Hy meen mense moet dit ernstig opneem.
VEREENIGING. – Corrie Swart (55), wat homself as ‘n sportiewe persoon beskryf en onlangs nog vyf ure per week karate beoefen het, is op 10 April vanjaar gehospitaliseer nadat hy Covid gekry het.
Corrie vertel dat hy vir twee weke siek by die huis was voor hy in die hospitaal opgeneem is.

Hy vertel: “Ek het aanvanklik gedink dit was net griep of brongitis en het nie geweet dit is Covid nie.
Ek is dokter toe en is toe vir ‘n Covid-toets gestuur, waarna ek positief getoets het.” Volgens Corrie was die dokter bekommerd oor sy suurstofvlakke.
“My suurstofvlakke was baie laag. Ek was naby daaraan om in ‘n koma in te gaan indien ek nie in die hospitaal opgeneem is waar ek mediese sorg ontvang het nie,” vertel hy.
Corrie vertel dat hy vir ‘n ruk in die intensiewe sorgeenheid was.
Hy kan nie veel daarvan onthou nie, aangesien die gebrek aan suurstof na sy brein tot geheueverlies gelei het.
Hy is ook met ‘n suurstofmasker (hoodie) behandel.
“Sodra jou suurstofvlakke bevredigend is, haal hulle jou van die hoodie af en dan help hulle jou om asem te haal met behulp van ‘n suurstofpyp wat hulle by jou neus indruk en aan ‘n suurstofmasjien gekoppel is,” vertel Corrie.
Mettertyd het Corrie se toestand tot so ‘n mate herstel dat hy op sy eie kon asemhaal.

“Nadat die dokters tevrede was met my suurstofvlakke, het hulle my huis toe gestuur om aan te sterk.
“Ek het ook oefeninge gekry wat ek elke dag moes doen om my longe sterker te maak, soos wat die fisio jou in die hospitaal leer.”
Corrie is op 4 Mei ontslaan na 24 dae in die Covid-saal. Sy vrou het twee weke nadat hy in die intensiewe sorgeenheid beland het, ook Covid gekry.
Hulle albei het nou volkome herstel. Corrie vertel: “Om Covid te hê voel baie soos griep.
“Ek dink dit is waar ek die fout gemaak het deur nie dadelik by my dokter uit te kom en vir ‘n toets te gaan nie.”
Corrie meen dit is belangrik om nie mense met die hand te groet nie, om sosiale afstand te hou en om ‘n masker te dra.

* Hy wil graag vir dr. Stefan Engelbrecht, dr. Tanja Nell, dr. Jackie Goldswain, die fisioterapeut Chantel Habig en past. Wimpie Cronje en die hospitaalpersoneel bedank vir hulle hulp en bystand.
