Entstowwe wat in SA gebruik word “veilig” en “doeltreffend” – Ramaphosa
President Cyril Ramaphosa het op Sondagaand (30 Mei 2021) tydens sy televisietoespraak aan Suid-Afrikaners benadruk dat al die entstowwe teen die Covid-19-virussiekte wat goedgekeur is vir gebruik in Suid-Afrika veilig en effektief is.
Volgens Ramaphosa word hierdie entstowwe ten volle getoets op baie mense en moet dit streng prosesse ondergaan alvorens dit goedgekeur kan word.
Ramaphosa het bygevoeg dat dit boonop deur die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte en deur ‘n aantal gesondheidsowerhede regoor die wêreld goedgekeur is.
Meer belangrik is dat hierdie entstowwe beskerming teen ernstige Covid-19 en dood weens die virussiekte bied.
Ramaphosa het die landwye inentingsveldtog as die “grootste massa-inentingsprogram in die land se geskiedenis” beskryf.
Die tweede fase van die inentingsprogram, wat gesondheidswerkers wat nog nie die entstof ontvang het nie, sowel as mense ouer as 60 teiken, het twee weke gelede afgeskop.
Dit volg na die eerste fase van die program waartydens 480 000 gesondheidswerkers ingeënt is.
Volgens Ramphosa is 67 persent van openbare gesondheidswerkers reeds ingeënt.

Gesondheidswerkers wat tydens die eerste fase ingeënt is het die Johnson & Johnson-entstof ontvang wat slegs ‘n enkele dosering vereis.
Mense ouers as 60 ontvang tans die Pfizer-entstof wat twee doserings vereis.
Oues word in hierdie stadium geprioritiseer aangesien hulle ‘n groter kans staan om ernstige Covid-19 op te doen en te sterf.
Volgens Ramaphosa het 480 000 mens gedurende die afgelope twee weke hul eerste dosering van die Pfizer-entstof ontvang. Hulle sal binne 42 hul tweede dosering moet ontvang.
In totaal het meer as 960 000 Suid-Afrikaners reeds een dosering van ‘n entstof teen Covid ontvang.

Volgens Ramaphosa mik hulle om in die volgende paar weke die miljoenkerf verby te steek.
Ramaphosa het ook gepraat van uitdagings wat ervaar word en aangespreek moet word.
Volgens hom is daar talle bejaarde Suid-Afrikaners wat gesukkel het om hulself op die elektroniese datastelsel te laat registreer.
Dit is volgens Ramaphosa hoofsaaklik weens die gebrek aan rekenaars of toegang tot selfone en moeilikheid om Engelse aanwysings te verstaan.
Volgens Ramaphosa word die probleme aangespreek.
Daar is vier maniere wat mense kan registreer om die Covid-19-entstof te ontvang:
*Deur die aanlynplatform te gebruik om te registreer.
*Deur *134*832# te skakel en op hierdie wyse te registreer.
*Deur die woord “register” te WhatsApp aan 0600 123 456.
*Deur die landwye tolvrynommer te bel by 0800 029 999 waar iemand jou kan help om te registreer en vrae te beantwoord oor die inentingsprogram.
