Waterlekke: DA vra premier om in te gryp
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê hy is geskok oor die honderde duisende rand wat maandeliks verlore gaan weens gebarste pype in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.
VEREENIGING. – Die opposisieparty se streeksvoorsitter in die Vaal-gebied, Dennis Ryder, meen alle meganismes om die probleem met die munisipaliteit uit te sorteer is reeds uitgeput en sê hy gaan nou ‘n brief aan die Gautengse premier, David Makhura, stuur waarin hy versoek word om in te gryp.
Volgens Ryder sukkel die munisipaliteit om waterlekke reg te maak aangesien daar nie diesel is om vragmotors mee vol te maak nie en daar ook nie toerusting is om lekkasies reg te maak nie.
“Die munisipaliteit word al vir jare lank gekenmerk aan sy basiese onvermoë om te beplan en te begroot.
“Die munisipaliteit is tans onder administrasie, wat beteken dat die provinsiale regering moet help om die tekortkominge aan te spreek.
“Ongelukkig was die provinsiale regering van die begin af afwesig wanneer dit by hierdie kwessies kom,” sê Ryder.
“Terwyl die provinsiale regering wel onlangs ‘n sigbare verskil gemaak het in terme van herstelwerk aan provinsiale paaie, moes hulle in elk geval meer oor die afgelope paar jaar gedoen het om Gauteng se stiefkind-munisipaliteit by te staan,” sê hy.
Volgens Ryder wil dit voorkom of daar geen vordering is om die sukkelende munisipaliteit reg te ruk of basiese dienslewering te laat geskied nie.
Ryder meen dit is eenvoudig nie goed genoeg om die verskoning te gebruik dat daar nie diesel is nie.
“Die burgemeester en speaker het brandstof vir hul uitspattige voertuie wat deur die munisipaliteit befonds word,” sê Ryder.
