Local newsNewsNews

Hulle brei en hekel om ander te help

60 Komberse gebrei en gehekel in sewe weke!

VANDERBIJLPARK. – Die Eureka Skool in Vereeniging het op 12 Mei ‘n warm verrassing ontvang in die vorm van handgebreide en gehekelde kniekomberse, serpe, musse (beanies) en  vingerlose handskoene vir die leerlinge.

Die warm goed is tuisgemaak deur die vlytige dames van die NG kerk Driehoek se barmhartigheidsprojek, bekend as die Help Lift Projek.

Daar was 60 van elke item en Ronél Botha, die spanleier, sê hulle het alles in minder as sewe weke voltooi.

Sewe dames het saamgespan het om die projek ‘n sukses te maak, maar almal is dit eens dat hul nie kan pen vashou by Chrissie Botha en Annette Schoeman nie.

Die twee dames laat die breinaalde en hekelpenne elke dag klap en het behoorlik gewoel om seker te maak alles is betyds klaar voor die spertyd.

Hulle laat egter nie nou slaplê nie en gaan onverpoosd voort om komberse klaar te maak.

Ronél se dogter Cornel La Grange sê dis haar werk om van die kleiner “granny squares” aanmekaar te sit om groter komberse te vorm.

“Dit hou ons besig en uit die kwaad uit,” het sy gelag.

Een van die ander het bygevoeg dis lekker as die kombers waarmee hul besig is begin groot raak, “want dan hou jou hekelwerk sommer jou bene ook warm”.

Die dames is voortdurend besig om ander te help. So is daar 35 gesinne wat gereeld kospakkies ontvang en wat ook al mussies gekry het.

“Ons het op ‘n stadium meer as 600 handgebreide beanies gehad, maar daarvan is die meeste nou uitgedeel. Dis vir ons ons lekker om saam met ander instansies te werk om mense te help,” het Ronél gesê.

Die groep was ook al betrokke by die Rotary Klub van Vanderbijlpark se grootste kombers-projek,  die daaropvolgende serpe-projek en hierdie jaar se Winter Angels.

Op die oomblik is hulle ook besig om sweetpakke vir kinders te maak in samewerking met Emfuleni for Change.

Die belangrikste bly egter maar hul brei en hekelwerk om seker te maak hulle kan soveel mense as moontlik help met warm komberse, handskoene, serpe en mussies.

Die dames wil graag nog meer doen, maar sê dat hul altyd ‘n tekort aan wol het en daarom sal enige wol skenkings (verkieslik Double Knit) op prys gestel word.

Dit kan weeksdae tot 13:00 by die NG kerk Driehoek, Danie Theronstraat 59 in Vanderbijlpark afgelewer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button