Die hemelruim het sterrekykers in April en Mei met twee skouspelagtige supervolmane bederf. Die supermaan wat Woensdagaand, 26 Mei vanuit die Vaaldriehoek gesien kon word, was die grootste en helderste van die jaar. Op 24 Junie sal die laaste supervolmaan van 2021 gesien kan word.
‘n Supermaan kom voor wanneer die maan sy volle fase bereik terwyl sy baan nader aan die aarde is as tydens ‘n gemiddelde volmaan. As gevolg hiervan lyk ‘n supermaan 7% tot 14% groter en tot 30% helderder as ‘n gewone volmaan, veral as dit oor die horison begin styg.
In die suidelike halfrond word ‘n supermaan in Mei ‘n rypmaan (“frost moon”) genoem, omdat dit tradisioneel die einde van die herfs en die koms van die winter aankondig. In die noordelike halfrond staan dit egter as ‘n “flower moon” bekend, omdat dit die lente en blomtyd in daardie wêrelddele inlei.
Talle kulture regoor die wêreld glo al vir millennia dat die maan se fases ‘n invloed het op die sukses of mislukking as jy saai of plant, en baie hengelaars glo ook dat die maan in ‘n sekere fase moet wees as jy baie vis wil vang.
Volgens die webblad The Old Farmer’s Almanac huldig baie mense nog die bygeloof, wat al honderde jare deur oorlewering oorgedra is, dat jou nuwe klere nie lank gaan hou as jy dit die eerste keer gedurende ‘n volmaan was nie. Nog ‘n bygeloof is dat jy gelukkig getroud sal wees as jy ‘n huweliksaansoek gedurende ‘n volmaan aanvaar.
Bronne: Solarsystem.nasa.gov, RSG Sterre en Planete, en The Old Farmer’s Almanac.

*************************************************************************************************************************
