Local newsNewsNews

Jurgens wen met rugby monoloog

Jurgens Swartz (9) het bewys hy is 'n gebore akteur by die Oos-Rand Kunstefees.

SASOLBURG. – Jurgens Swartz (9) kan met reg trots voel nadat hy twee trofeë by die Oos-Rand Kunstefees verower het.

Nie net is hy as wenner van die Grondslagfase aangewys nie, hy was die Algehele Drama Wenner wat uit drie afdelings gekies is, naamlik die Grondslagfase, Laerskool Gr. 4 – 7 en die Hoërskool afdeling.

Jurgens se ma, Letitia Swartz, sê die Oos-Rand Kunstefees was oop vir almal en deelnemers kon in verskeie afdelings deelneem, van sang tot by dans en drama.

Elke deelnemer moes vier items in video formaat instuur. Jurgens het besluit om ‘n monoloog, stilstaande poësie, ‘n redenaarstoespraak en ‘n resep demonstrasie in te stuur.

Jurgens saam met die Drama afdeling se beoordelaars, Juanita de Villiers Velts en Andre Velts. Foto: Verskaf

“Die video’s mag nie langer as vier minute gewees het nie. Veral die resep demonstrasie het ons nagmerries besorg.

“Hy het ‘n ontbyt koekie gedemonstreer en dit het agt probeerslae gevat alvorens ons ‘n ordentlike video gehad het.

“Op ‘n stadium het die mengsel selfs in die mikrogolfoond ontplof,” onthou Letitia en lag te lekker.

Net 10 deelnemers uit elke kategorie is uitgenooi na die Gala dag op 29 Mei by die Hoërskool Stoffberg in Brakpan.

Die beoordelaars het die finaliste laat weet watter item by die finaal gelewer moes word.

Letitia sê sy en haar man, PG, was verras toe Jurgens en sy ouer sussie, Mia albei vir die Gala dag gekies is.

“Dit was lekker toe hul albei kon deelneem by die groot dag. Mia het gedramatiseerde poësie gedoen en Jurgens moes sy monoloog opvoer.”

Jurgens se monoloog, Want my ma hou van rugby, was ‘n groot treffer. Kyk hier na die stukkie prettigheid. 

Letitia sê dit was die eerste keer wat hy aan so iets deelgeneem het. Hy het ook nog nooit formele drama opleiding gehad nie.

Omdat hy so jonk is, was sy saam met hom agter die verhoog. “Ek het sy hand vasgehou net voordat hy opgegaan het. Dit was so oulik. Hy het met toe oë gestaan en net gesê, “Stage fright. Stage fright.” Maar, die oomblik toe hy aan die gang gekom het, het ek gesien hy geniet dit.”

Teen die tyd wat hul by die huis gekom het, het Jurgens verklaar: “Ek is nou moeg. Ek gaan nou eers op my bed lê en na my trofeë kyk.”

Later wou hy weet wanneer is die volgende kunstefees, hy wil begin oefen. Die dramagogga het hom duidelik gebyt.

Die akteurspaar, Juanita De Villiers Velts en André Velts, was die beoordelaars in die drama afdeling.

Juanita het op die Oos-Rand Kunstefees se Facebook blad die volgende oor Jurgens te sê gehad: “In ons Drama afdeling was ons Algehele Drama Wenner JURGENS SWARTZ. Hy is maar slegs in Gr 3, maar wat ‘n Talent. ‘n Blink toekoms vir die jong man. Baie geluk Jurgens!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button