Local newsNewsNews

Recuerdos – Uit ‘n ander wêreld

"Weereens heeltemal weggevoer met n fantastiese vertoning. Wat n puik kombinasie van klassieke kitaar, dans en videografie!!" - Bernard Otto, Facebook

SASOLBURG. – Die een oomblik was ons nog in die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg.

Was ek bewus van die masker wat oor my gesig span, het ek die helder rooi van die verhoog gordyne opgemerk.

Toe word dit donker. Die musiek begin. Die senior dansers van Carli Olivier en Georgina Jacobs se dans studios begin grasieus beweeg op die maat van Tennesse deur Hans Zimmer.

‘n Skermskoot van die onderwater videografie deur Ilse Moore.

Die tempo begin stadig met Carli se vertolking van El Cisne deur Saint-Saëns.

Wanner die befaamde kitaarmeester, James Grace, stil-stil plek inneem en die eerste klanke van Paseo deur Eduardo Sainz de la Maza die teater vul, vervaag alles behalwe die kleur, klank en beweging op die verhoog.

Dan is dit daar. Saam met die meesleurend kitaarklanke, kom daar lewe op die skerm teen die agterste muur.

Beelde van die dansers in helder kleur onder water afgeneem. Ilse Moore se uitstekende foto- en videografie bring die finale deurgang na ‘n ander wêreld.

‘n Wêreld waar slegs die kitaar klanke en die dansers sin maak. Bestaan.

Die musiek word vinniger, die dansers se kleredrag kleurvoller.

Die klap van kastanjette en ritmiese stamp van voete word die totale werklikheid.

Dan lig James Grace sy kop op. Word die kitaar stil. Kyk hy vir die eerste maal direk vir die gehoor.

Sy woorde trek mens stadig terug tot binne die ERT.

Vir oulaas is die dansers daar. Vir oulaas word hande ritmies geklap.

Die dansers, kitaarmeester en fotograaf toegejuig.

Vir oulaas ‘n blik op die swaar rooi gordyne.

Ongenaakbaar word die ligte aangeskakel.

Voel ek weer die masker oor my gesig span.

Dit voel asof alles in ‘n oogwink verby is, maar meer as 90 minute het verloop vandat ons sitplek ingeneem het.

Die vertoning was ‘n welkome ontvlugting van die alledaagse stres.

Nie net was James Grace se kitaarspel, die choreografie en elkeen van die dansers uit die boonste rakke nie.

Die klank deur Sybrand Lintvelt en beligting deur Imile de Bruin het meesterlik bygedra tot die sukses van Recuerdos.

Welgedaan aan almal wat saamgespan het om hierdie produksie op die planke te bring. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button